Author: Chas Everitt, 10 September 2026,
News

Dorp vat die beker in die 46ste Boere vs Dorp Gholf Dag

Daar is sekere tradisies wat net deel van ’n dorp word – en op Bredasdorp is Boere vs Dorp beslis een van hulle.

Saterdag 5 September het Boere en Dorp weer op die Bredasdorp Gholfklub kragte gemeet, vanjaar vir die 46ste keer. Die dag se oorsprong strek al die pad terug na 1968, toe Suidhoek Verspreiders die Boere vs Dorp-beker geskenk het. Hoewel ’n paar jare oor die dekades misgeloop is, het die dag ’n vaste instelling op die plaaslike kalender geword.

Boere het vanjaar as die verdedigende kampioene opgedaag, maar Dorp het ander planne gehad.

Met die beste tien tellings van elke span wat die uitslag bepaal, het Dorp 419 punte teenoor Boere se 394 aangeteken. Dorp stap dus met die 2026-beker weg – ’n oorwinning van 25 punte.

Philip Kruger was aan die stuur van Boere, met Johan du Toit aan sy sy, terwyl D’Neil Miskey, ondersteun deur Marius Swart, die Dorp-span gelei het. Elke kant het uit 25 tweemanspanne bestaan en die dag is in 4BBB-formaat gespeel.

Boere vs Dorp-uitslae

Daar was sommer goeie gholf ook. Laremy Loubser en Theuns Schreuder van Dorp het met 46 punte die beste telling van die dag aangeteken. Devon Moos en Mike Visagie, ook van Dorp, was kort op hul hakke met 45 punte, terwyl Francois du Toit en JH Wiehman van Boere met 43 punte derde geëindig het.

Maar soos enigeen wat al ’n Boere vs Dorp meegemaak het sal weet, gaan dié dag oor heelwat meer as net die telling. Die baan was vol, die klubhuis het gegons en daar was genoeg gesels, lag en vriendelike wedywering om seker te maak die dag bly een van die lekkerstes op die klub se kalender.

’n Klub met diep wortels

Die Bredasdorp Gholfklub is self al 105 jaar oud. Die klub was aanvanklik langs die polisiestasie geleë en het in 1975 na sy huidige tuiste verskuif. Wat dié geskiedenis nog besonders maak, is dat die baan destyds deur die lede self gebou is.

Daardie gevoel van eienaarskap en betrokkenheid is vandag nog deel van die klub.

Die klub het tans 256 lede en meer as 10 000 rondtes gholf word jaarliks hier gespeel. Byna die helfte daarvan word deur besoekers aan die Kaap Agulhas-gebied gespeel. Die klub is dus nie net ’n lekker plaaslike kuierplek nie, maar speel ook ’n belangrike rol in toerisme in die omgewing.

En daar gebeur altyd iets. Daar is kompetisies op Woensdae en Saterdae, die afgetredenes het hul Maandagskool en Donderdae is die dames op die baan. Maar die klub se lekker sosiale gees is net so belangrik soos die gholf. Dis ’n plek waar mense ná ’n rondte nog ’n bietjie bly sit, stories uitruil en saam eet.

Die klub lyk ook deesdae sommer spoggerig. Met behulp van skenkings is die stoep onlangs oorgedoen, en die plaveisel op pad na die eerste bof is ook opgeknap. Die baan is tans in puik toestand, terwyl Mojos sorg vir heerlike etes by die klub – nog ’n goeie rede om ná die laaste putt nie te haastig huis toe te gaan nie.

Boere vs Dorp wys ook elke jaar iets van die ondersteuning wat daar in Bredasdorp vir plaaslike instellings bestaan. Verskeie plaaslike ondernemings het weer ruim bygedra om die dag moontlik te maak, met Overberg Agri Bedrywe en Chas Everitt Cape Agulhas as die hoofborge.

Voor vanjaar se wedstryd het Dorp 29 oorwinnings agter die naam gehad, teenoor Boere se 15, met die enigste gelykopuitslag in 1971. Met Saterdag se oorwinning skuif Dorp se totaal nou na 30.

Maar dié een gaan nie net oor wie se naam op die beker staan nie. Ná 46 jaar bly Boere vs Dorp ’n dag van goeie gholf, ou vriende, nuwe stories en lekker plaaslike wedywering.

En soos dit hoort op Bredasdorp: volgende jaar probeer die Boere weer.