SHOWING ARTICLE 707 OF 814

Vaal-Landgoedere Lok Gautengers

Category News

Naweekhuise op die oewers van die Vaalrivier in en om Parys bly gewild onder sakemanne uit Gauteng en eenhede in eksklusiewe gholf- en natuurlandgoedere is bo-aan hul inkopielys.
 
Die feit dat Parys maklik binne 'n uur vanaf Johannesburg bereik kan word, is een van die redes waarom dit so 'n gewilde naweekbestemming is, sê Gerrie Joubert van die plaaslike Chas Everitt International-konsessie. "Voeg daarby die dorp se lewendige toerisme oor naweke en die natuurskoon en rustigheid van die Vaal en dis maklik genoeg om te sien waarom die gebied so gewild is."
 
Hoë-profiel naweekkopers teiken hoofsaaklik die twee plaaslike gholflandgoedere en die Vaal de Grace natuurreservaat, sê hy. Erwe in die reservaat is beskikbaar teen pryse van tussen R700 000 en R1,3m en kopers is gewoonlik natuurliefhebbers wat die ongerepte omgewing onweerstaanbaar vind. Inwoners het toegang tot die rivier waar voëlkyk 'n gewilde tydverdryf is. Verskeie soorte wild is teenwoordig en kopers moet by streng bouvoorskrifte hou om die ekologiese integriteit van die reservaat te beskerm.
 
"Erwe in die naasliggende Vaal de Grace gholflandgoed - wat sowat 5km buite Prys op die Vredefortpad geleë is -  verkoop nou teen pryse tussen R600 000 en R1,4m, afhangende van grootte en ligging. Die landgoed is op 'n eiland gebou, wat tot die gevoel van afsondering en die cachet van die ontwikkeling bydra."
 
Erwe in die Parys Golf & Country-landgoed aan die oewer van die Vaal is effens goedkoper teen pryse van tussen R350 000 en R800 000, sê Joubert. "Dit dra by tot die gewildheid daarvan, net soos die feit dat inwoners private boottoegang tot sowat 8km op die rivier geniet. Die landgoed bied ook 'n restourant en verskeie ander sportgeriewe benewens gholf, insluitende tennis en muurbal."
 
Die landgoed is ook meer ontwikkel as die Vaal de Grace-ontwikkelings en daar is reeds huise wat herverkoop word teen pryse vanaf sowat R1,5m tot sowat R5m, sê hy. Dié huise is ruim en bied van vier tot vyf slaapkamers, wat dit gerieflik maak om vriende, familie en sakevennote oor naweke te onthaal.
 
Joubert sê aftrede op Parys is ook 'n gewilde keuse danksy die rustige leefwyse binne maklike bereik van spesialis mediese en ander dienste in Johannesburg. Aftree-eenhede met twee slaapkamers en twee badkamers teen pryse van tussen R500 000 en R900 000 is in die grootste aanvraag maar voorraad is beperk en Chas Everitt Parys het 'n lang waglys van gretige kopers.
 
Terselfdertyd, sê hy, hou handelsontwikkeling in die streek tred met die volgehoue invloei van nuwe inwoners. Plaaslike kettingwinkels verhuis na groter persele, banke open nuwe takkantore en 'n nuwe winkelsentrum gaan binnekort open. Paaie word ook opgeknap.
 
"Al hoe meer naweektoeriste besoek die talle winkeltjies wat antieke ware verkoop en geniet die wye verskeidenheid geleenthede vir ontspanning - en dit stut die plaaslike ekonomie. Daar is dus ook uitstekende geleenthede in die gastebedryf. Daar is byvoorbeeld beslis ruimte vir meer bed-en-ontbyt-ondernemings sowel as selfsorg verblyf."

Author: Barry Davies

Submitted 30 Oct 14 / Views 1286