As jy een van die duisende mense is wat besluit het om n onderneming tuis te bedryf, is daar n moontlikheid dat jy nie jou eiendom wettiglik mag verkoop sonder om dit eers volgens die voorskrifte van die Insolvensiewet te adverteer nie selfs al is jy nie op die randjie van bankrotskap nie.
Dit is die gevolg van Artikel 34(1) van die Wet, wat van toepassing is op enige handelaar wat goedere of eiendom koop of verkoop, goedere of eiendom verhandel of vervaardig, of enige bou- of konstruksiewerk onderneem, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.
Die artikel bepaal dat enige goedere of bates wat deel van so n onderneming vorm nie verkoop mag word nie (behalwe in die normale gang van die onderneming) as n kennisgewing van die verkoop daarvan nie minstens 30 dae vooraf in die Staatskoerant sowel as twee uitgawes van n Afrikaanse en Engelse koerant wat in die omgewing waar die onderneming bedryf word verskyn, gepubliseer word nie.
En die eiendom waaruit die onderneming bedryf word, word by dié bepaling ingesluit indien dit in besit van die onderneming is of, soos in die geval van talle klein sake-ondernemings, indien dit deur die handelaar wat die onderneming bedryf, besit word.
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat die hoofdoel van dié ou wetgewing duidelik daarop gemik is om ondernemers wat op die punt van bankrotskap staan, te verhoed om die onderneming se bates soos toerusting, grond of geboue, te stroop voordat die krediteure daarop beslag kan lê, en dit beteken dat n verkoopstransaksie ter syde gestel kan word indien dit nie na behore volvoer is nie.
Die wet is egter van toepassing selfs indien daar geen dreigende bankrotskap is nie en die eiendom in die normale gang van sake verkoop word en dit onderstreep hoe belangrik dit is dat verkopers slegs die dienste benut van gevestigde en ervare eiendomsagente, wat deeglik bewus is van bykomende wetsvereistes by die verkoop van wooneiendom wat geheel of gedeeltelik vir sakedoeleindes benut word.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.co.za