Dakvensters is energiebesparend

Dakvensters verlig huise met sonlig – en kan energieverbruik verminder, veral in vertrekke sonder tradisonele vensters.

Verbuikers behoort egter te let op die verskillende soorte en die rol wat posisie, grootte en energiedoeltreffendheid speel om die grootste voordeel te behaal en moontlike negatiewe newe-effekte te beperk, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat daar hoofsaaklik drie soorte dakvensters is. Die eerste is ‘n ventilerende dakvenster wat dikwels in kombuise en badkamers gebruik word. Sulke vensters kan met ‘n handmeganisme oopgemaak word sodat warm lug of stoom kan ontsnap en help om vertrekke in die somer koel te hou en te voorkom dat swamme op die mure verskyn.

“Die tweede soort is ‘n dakventer wat permanent toe bly en dus lig maar geen ventilering verskaf nie, en die derde is ‘n buisvormige dakvenster wat veral nuttig is in vertrekke waar meer lig nodig is maar waar hitte vanaf sonlig oorbodig of ongewens is.”

Wat posisie betref, sê hy, raai kenners aan dat dakvensters op suidelike panele van ‘n dak aangebring word indien meer hitte ongewens is en jy nie geld aan verkoeling wil bestee nie; en op noordelike panele indien lig sowel as meer hitte verlang word.

Die Amerikaanse departement van energie raai verbruikers teselfdertyd aan dat die omvang van dakvensters - afhangend van die aantal venters - slegs tussen 5% en 15% van die vloeroppervlak van die vertrek moet wees en sê dat venters met dubbelglas, ‘n hitte-absorberende tint of lae-uitstralingsfilm help om hitteruiling in en uit die huis te beperk.”

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Barry Davies
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.com