Talle mense verhuis deesdae weens ekonomiese redes – maar voor jy ‘n nuwe eiendom in ‘n onbekende buurt koop of huur behoort jy eers seker te maak dat dit veilig vir jou en jou gesin is om daar te gaan woon.
“Wanneer jy ‘n nuwe huis soek,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, “sal dit jou die moeite loon om in gedagte te hou dat jy nie net in ‘n gebou, hetsy woonstel of huis, gaan woon nie, maar ook in ‘n buurt en dit behoort dus ‘n omgewing te wees waar jy alle ure van die dag of nag veilig sal voel.
“Natuurlik sal min mense ‘n buurt teiken waar vervalle geboue, gebreekte vensters en bendes se grafitti die uitstaande argitektoniese kenmerke is. Maar misdaad kan oral voorkom, nie net in vervalle buurte nie, en jy moet dus goed ondersoek instel voordat jy op ‘n woonbuurt besluit.”
Ongelukkig, sê hy, is SA se misdaadstatistiek nie juis op datum nie en die statistiek is ook onvolledig maar ‘n mens kan moontlik meer onlangse inligting van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum of belastingbetalersvereniging bekom oor stygende of dalende misdaadtendense in die betrokke gebied – en of daar sekuriteitspatrollies of ‘n buurtwagdiens beskikbaar is. Misdaad floreer gewoonlik nie in buurte waar inwoners bereid is om saam te span om misdaad te voorkom nie.
“Jy behoort ook ‘n punt daarvan te maak om met plaaslike inwoners – jou toekomstige bure – en winkeliers te gesels om ‘n idee oor die buurt te vorm en dan die area op verskillende dae en verskillende tye te besoek om uit te vind watter soort aktiwiteit daar op straatvlak is. Kinders wat skool toe stap of in parke speel is goeie aanduiders van ‘n veilige omgewing maar inwoners wat stap of draf, vir ‘n bus wag of laatmiddag en selfs saans na winkels toe stap is ook goeie tekens.
“Jy moet ook onthou dat veiligheid meer as net ‘n afwesigheid van misdaad beteken,” sê Everitt. “’n Besige straat in die middel van die buurt waar motors verbysnel kan net soveel gevaar vir jou kinders en troeteldiere inhou.
“En dan is daar natuurlik geraas. Maak eers seker dat toekomstige bure nie ‘n raserige onderneming uit hul erf bedryf of elke tweede aand ‘n jolige partytjie hou nie. En die meeste mense verkies om nie te na aan restaurante, klubs of ander plekke wat harde musiek speel te woon nie aangesien gebrek aan rustige slaap ’n mens se gesondheid kan knou.”
Hy stel ook voor dat jy by jou eiendomsagent moet uitvind of die buurt se inwoners hoofsaaklik huurders of eienaars is. “Dit is ongelukkig waar dat talle mense minder respek toon vir eiendom wat hulle huur eerder as besit – en sulke inwoners sal jou regte as buurman heel waarskynlik met ewe veel gemak misken.
“Aan die ander kant kan ‘n buurt met baie beskeie huise ‘n wonderlike woonplek wees as die eienaars trots is op hul eiendom en ‘n sterk gemeenskapsin toon.”
ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.com