Kry kundige hulp met voorwaardelike klousules

Mense wat huise wil verkoop is soms bereid om koopaanbiedinge van kopers wat eers hul eie eindom moet verkoop, te aanvaar, al is dit nie ‘n ideale situasie nie.

In die heersende mark is sulke aanbiedinge beslis meer aantreklik aangesien daar steeds meer verkopers as voornemende kopers is, sê Berry Everitt, uitvoerende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Albei partye behoort egter groot sorg aan die dag te lê as hulle ‘n aanbod  invul wat ‘n klousule bevat wat bepaal dat die transaksie onderhewig is aan die verkoop van die koper se eiendom,” sê hy.

Die verkoper moet byvoorbeeld seker maak dat die ooreenkoms ‘n sperdatum spesifiseer vir die voornemende verkoper om sy huis te verkoop of om die voorwaarde op te skort of die hele transaksie te kanselleer.

“Sonder so ‘n datum is dit heeltemal moontlik dat die verkoper sy eiendom aan niemand anders mag verkoop solank die aanvanklike koper nie enige ander voorwaardes in die koopkontrak breek nie.”

Hy skryf in die jongste uitgawe van die nuusbrief, Property Signposts, dat die koper ook moet besef dat hy net ‘n sekere tydperk het om sy bestaande eiendom van die hand te sit anders kan hy homself in finansiële probleme dompel omdat hy vir twee eiendomme sal moet betaal sodra die huislening op die nuwe eiendom goedgekeur word.

“Die verkoopsooreenkoms behoort ook duidelik uit te stippel dat die voornemende koper  - en nie die verkoper nie - dié voorwaarde mag ophef of die ooreenkoms mag kanselleer indien hy nie sy eiendom teen die sperdatum verkoop het nie.

“Kortom, voorwaardelike ooreenkomste kan ingewikkeld wees en kopers sowel as verkopers word dus aangeraai om slegs gekwalifiseerde en ervare eiendomsagente te kies omdat sulke agente sal verseker dat koopooreenkomste behoorlik opgestel en ingevul word.”

UITGEREIK DEUR
CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com