Press Release - 26 July 2007

Ontwikkelaars teiken KZN noordkus

Die hewige storms wat Ballito aan die KZN noordkus vroeër vanjaar getref het, het geen afbreuk aan beleggers se geesdrif gemaak nie.

Hoewel die eiendomsmark op Ballito ‘n tydelike terugslag ervaar het toe storms die kus gedurende herfs getref het, is die langtermynvooruitsigte vir die hele kusstrook uitstekend, sê Barney Fleiser van die plaaslike Chas Everitt International-kantoor.

“Daar is bemoedigende belangstelling van eiendomsbeleggers terwyl ontwikkelaars van so ver as Johannesburg die gebied fynkam vir ontwikkelingsgrond. Die vraag na sulke grond is so hoog dat ontwikkelaars bereid is om premies aan te bied in ‘n poging om grondeienaars na die onderhandelingstafel te lok.”

Hy sê ontwikkelaars beplan nuwe eenhede oor die hele spektrum wooneiendom, van deeltitel tot voltitel en fraksionele eienaarskap.

“Die bopunt van die woonmark het effens afgeplat, soos markte elders in die land, maar ons aanvaar dit as deel van die normale eiendomsiklus en verwag dat vraag in die toekoms gaan vergroot.

“Daar is egter nou groot vraag in die prysklas R1m tot R2m en dit is dié segment wat vinnige verkope vir ontwikkelaars sal verseker. Plaaslike inwoners sowel as vakansiekopers ding sterk mee om eenhede in dié segment.

Fraksionele eienaarskap is nou ook ‘n groeiende mark en al hoe meer kopers span saam om vakansiehuise te koop aangesien dit pryse meer bekostigbaar maak.”

Eenhede in leefstylontwikkelings bly steeds gewild, sê hy. “Tegnologie maak dit vir professionele mense moontlik om eenhede in dié landgoedere te koop en dan van die huis af te werk. Sommige van die eenhede bied ook goeie skole vir hul kinders.

Ons is bewus van ‘n inwoner in so ‘n landgoed wat ‘n loodgietersonderneming in die VK besit en die hele onderneming van hier af bestuur.”

UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BARNEY FLEISER
032 946 0412
OF BESOEK www.chaseveritt.com

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
megw@telkomsa.net