Slaggate vir eerste kopers

Hoewel padagentskappe nou uiteindelik werk maak van slaggate op ons paaie is daar nogtans ‘n paar slaggate op die pad na huisbesit wat eerste kopers self moet hanteer.

“Dit sluit in die mening dat die buurt waar jy jou eerste huis koop nie van veel belang is nie omdat jy waarskynlik gou weer gaan verkoop en verhuis. Maar dit bly goeie raad om in die beste buurt en in die beste ligging wat jy kan bekostig te koop omdat dit in die toekoms kan vrugte afwerp,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Die buurt gaan ‘n groot rol speel in die prys wat jy vir jou huis gaan kry wanneer jy wil verkoop en op sy beurt gaan dit die prys wat jy vir ‘n nuwe huis kan betaal, beïnvloed. Dit geld elke skuif wat jy in die toekoms gaan maak.

“In die tweede plek moet jy nooit oorhaastig of onder druk koop nie, maar eerder die buurte waarvan jy hou goed deurkyk en uitvind hoe die eiendomsmark in dié buurte vaar.

“Jy behoort ook plaaslike skole, winkelsentrums, mediese geriewe en die misdaadsyfer in ag neem – al dink jy dat dié faktore nie jou eie leefstyl gaan beïnvloed nie kan dit beslis die herverkoop van jou eiendom raak.”

Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat eerste kopers ‘n derde slaggat moet vermy deur nie die mark te betree sonder om finansiële voorsorg te tref nie. “Werk eerder saam met ‘n verbandkonsultant of jou bank om vooraf vir die nodige finansiering te kwalifiseer.

“Dit sal jou in staat stel om net op huise wat jy kan bekostig te konsentreer en sorg dat jy ‘n koopaanbod met vertroue kan maak wanneer jy die regte eiendom raakloop.”

En laastens, sê Everitt, is dit ‘n fout om al jou beskikbare kontant in die kooptransaksie te stort. “Dis waar dat banke groot deposito’s verkies maar dit is ook noodsaaklik dat kopers ‘n reserwefonds vir onverwagte verhuisingskoste of noodgevalle hou.

“As jy eers gevestig is kan jy enige los kontant in jou huislening inbetaal om die uitstaande kapitaal te verminder om so jou huis vinniger af te betaal.”

UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com