Press Release - 24 June 2009

Goedkoper huise in Kamagugu naby Nelspruit verkoop fluks en meer as 70 eiendomme is die afgelope paar weke na nuwe eienaars oorgedra.

Dit is die nuus van Kim Pascoe, hoofagent van die plaaslike Chas Everitt International-kantoor. Sy wys daarop dat die oplewing te danke is daaraan dat banke 100% lenings toestaan vir huise wat R300 000 en minder kos, en dat rentekoerse gedaal het, wat maandelikse betalings meer bekostigbaar maak.

“Die meeste huise in Kamagugu val in dié kategorie en kopers – veral jong paartjies met vaste werk – maak van die geleentheid gebruik met die oog daarop dat eiendomswaardes styg wanneer die eiendomsmark herstel.

“Daar is ‘n groeiende waardering vir eiendom as ‘n belegging en in baie gevalle besef dié jong mense ook dat afbetalings op hulle eie eiendom nou minder kos as om huur aan iemand anders te betaal.”

Nelspruit se aftree-eiendomsektor vaar terselfdertyd uitstekend, sê Pascoe. “Vraag na aftreeverblyf het die afgelope paar jaar sterk toegeneem danksy vraag van talle afgetredenes uit groot stede in Gauteng en elders wat deur die meer ontspanne leefstyl en aangename klimaat gelok word.

“Die stad het aanvanklik daarin geslaag om dié nuwe toevloei te absorbeer maar op die oomblik is vraag groter as aanbod – ‘n situasie wat aanleiding gegee het tot ‘n nuwe 1000 eenheid aftreedorpie, waarvoor ons die bemarkingsmandaat hou.”

Bateleur Estate, ‘n holistiese landgoed van 200ha op Nelspruit se stadsgrens word gesametlik deur Absa Korporatiewe- en Sakebank en ontwikkelaars Jakkie van Heerden, Laeveldtrust en Dave Cruse ontwikkel. Bouwerk het reeds begin.

Pryse van die lae-onderhoud huise en woonstelle wat rolstoelvriendelik is sal tussen R630 000 tot R1,8m wissel en fase een van die landgoed gaan na verwagting teen die einde van die jaar voltooi word.

Die ontwikkelaars het sterk nadruk gelê op die natuurlike elemente van die landgoed, soos damme en inheemse fauna en flora, en 60ha van die grond gaan nie ontwikkel word nie. Sekuriteitstelsels sal egter van die hoogste gehalte wees en inwoners sal ook toegang kry tot  ‘n verswaktesorgeenheid en ondersteuningsverblyf, ‘n gemeenskapsentrum, ‘n restaurant, sportgeriewe en winkels.

 

Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir nadere inligting:

Kim Pascoe

013 750 0284 of besoek

www.everitt.co.za

Bateleur Estate, ‘n holistiese landgoed van 200ha op Nelspruit se stadsgrens sal 1000 lae-onderhoud huise en woonstelle wat rolstoelvriendelik is aanbied wat se pryse tussen R630 000 en R1,8m wissel.