Verkoop vinnig en spaar hope

Huisverkopers kan die tyd wat dit neem om ‘n eiendom te verkoop met tot twee maande snoei indien hulle van die begin af die regte prys vra.

Dit is die mening van Berry Everitt van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, wat daarop wys dat verkopers wat hul eiendom vinnig verkoop sommer ‘n hoop geld aan houkoste kan bespaar en op die koop toe baie kommer en spanning kan vryspring.

“Volgens die jongste opname deur ENB,” sê hy, “neem dit nou gemiddeld 106 dae om ‘n huis te verkoop. Maar ‘n onlangse ontleding van ons verkope in verskeie streke in die land toon dat huiseienaars wat ons Markwaarde Verslag benut het om ‘n gepaste prys aan die begin van die bemarkingsproses te bepaal hulle huise in gemiddeld 44 dae verkoop het.

“En die besparings wat hulle maak deur die bemarkingstyd met twee maande te snoei kan aansienlik wees. Die maandelikse verbandbetaling van ‘n huis met ‘n verband van R850 000 sal nou byvoorbeeld sowat R7700 beloop terwyl ander koste soos erfbelasting en munisipale dienste, versekering, onderhoud en sekuriteit minstens nog R4000 gaan beloop.

“Vir elke maand wat die eienaar dus aan bemarkingstyd bespaar, spaar hy dus sowat R12 000 in harde kontant, wat straks beter benut kan word om ‘n groter deposito op ‘n nuwe eiendom te betaal sodat sy maandelikse verbandbetalings daarop kleiner is.”

Op die oomblik is die kwessie rondom vinniger verkope ook baie relevant, sê Everitt aangesien dit weens vertragings by die Aktekantoor baie lank neem om oordragregistrasie af te handel.

Die gemiddelde tydperk tussen verkoop en registrasie is nou sowat 114 dae – of bykans vier maande – en huisverkopers kan nie die opbrengs uit die transaksie bekom voordat registrasie afgehandel is nie en dit is dus belangrik om die proses so gou as moontlik aan die gang te kry deur vinnig ‘n transaksie te beklink.”

Verdere ontleding van onlangse verkoopsyfers, sê hy, het getoon tot watter mate ‘n onvanpasde aanvanklike prys ‘n transaksie kan vertraag. “Huise met pryse wat 5% tot 8% te hoog was het 77 dae geneem om kopers te vind terwyl huise met pryse wat 8% tot 10% te hoog was gemiddeld 117 dae in die mark was.

“Dit was veral beduidend dat dit tot 180 dae kon duur om huise wat meer as 10% te duur was te verkoop – en sulke eiendom het gewoonlik slegs ‘n koper gelok wanneer die aanvanklike prys met 20% gesnoei is. En in daardie tydperk was verkopers natuurlik ook aanspreeklik vir die houkoste van minstens vier maande.”

ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.com