Press Release - 23 July 2007

Huislenings: moenie oorhaastig verander nie

Hoër rentekoerse laat baie huiseienaars daaraan dink om hulle verbandlenings na ander instellings oor te plaas waar hulle dalk ‘n beter koers kan beding, maar dit is die moeite werd om eers uit te vind presies wat hulle bestaande banke bied.

Dit is die raad van Berry Evritt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Hy sê: “Dit mag ‘n beter plan wees om uit te vind of jy ‘n beter koers kan beding sonder om jou lening oor te plaas – veral omdat die nuwe Nasionale kredietwet dit moeiliker maak om n’ lening aan te gaan.

Dit is beslis ‘n moontlikheid indien die waarde van jou eiendom toegeneem het of jou kredietwaardigheid verbeter het sedert die tyd toe jy die lening aanvanklik aangegaan het.”

Aan die ander kant, as jy die lening onlangs aangegaan het, moet jy seker maak daar is geen boetes betaalbaar vir vroeë terugbetaling wanneer jy die verband na ‘n ander bank oorplaas nie.

Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat indien jy wel besluit om oor te skakel of om jou huis te herfinansier, kan die skerp styging in waardes die afgelope paar jaar meebring dat jy bykomende kapitaal kan losmaak om jou huis te moderniseer en so die herverkoopwaarde daarvan op te stoot.

“Maar jy moet ook in gedagte hou dat dit weer 20 jaar gaan neem om ‘n nuwe verbandlening af te betaal. Dit is dalk nie ‘n goeie skuif as daar net ‘n paar jaar op jou oorspronklike lening oorbly nie.”

Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat die koste verbonde aan die registrasie van ‘n nuwe verband die besparings danksy ‘n laer rentekoers vir ‘n hele paar jaar kan absorbeer. Dit is ook belangrik om uit te vind of jy steeds by enige toekomstige rentekoersverlagings by die nuwe bank gaan baat.

“Kortom, jy moet ten volle bewus wees van al die moontlike probleme sowel as voordele voordat jy oorskakel. En die beste manier om inligting te bekom is om ‘n ervare leningskonsultant van ‘n betroubare verbandkonsultantmaatskappy te raadpleeg.”

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting: Berry Everitt
011 801 2500
Of besoek www.chaseveritt.com

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net