Deurlopende – en hoofsaaklike ongegronde – pessimisme in die residensiële eiendomsmark kan maklik ‘n selfvervullende voorspelling word.
Dit is die mening van Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. “Inderwaarheid is daar op die oomblik talle positiewe aanduidings vir eiendom en die eiendomsbedryf sowel as banke en ekonome behoort meer te doen om dié aanduidings uit te lig om die herstel in die mark aan te wakker.”
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts: “Huispryse is weer besig om te styg en hoewel gemiddelde stygings steeds nie inflasie ewenaar nie sal groter aktiwiteit in die mark en meer transaksies gou daarvoor sorg.
“Dit is ook belangrik om daarop te wys dat mense wat nou koop voordat pryse vinniger styg ‘n goeie skuif maak. Die eerste rede is dat hulle meer huis vir hulle geld kry en die tweede rede is dat hulle in ‘n beter posisie gaan wees om ‘n groter opbrengs op belegging te maak as hulle vroeër eerder as later in die eiendomsiklus koop.
“Vra maar iemand wat aan die begin van die jongste oplewing in die mark in 2004 gekoop het eerder as in 2007 toe pryse – en die koste om die mark te betree – reeds hemelhoog was.”
Everitt sê terseldertyd dat hy bemoedig is deur die feit dat verkoopsvolumes in die meeste van sy groep se kantore aansienlik hoër is as ‘n jaar gelede – en dat die gemiddelde tyd wat dit dié kantore neem om ‘n eiendom te verkoop nou tussen 10 en 12 weke is, ‘n groot verbetering op die sowat 20 tot 24 weke twee jaar gelede.
“Dit is hoofsaaklik daaraan te danke dat voornemende kopers se geldsake in die algemeen baie gesonder as twee jaar gelede is en dat hulle dus makliker vir huislenings kwalifiseer. Talle probleme met wanbetaling van lenings is uitgestryk, vlakke van huishoudelike inkomste is hoër en die gemiddelde skuld-tot-inkomste verhouding het tot minder as 77% gedaal, die laagste vlak sedert die einde van 2006.”
Dit is waarskynlik die rede waarom banke die afgelope paar maande beslis meer lenings toegestaan het.
“Gevolglik dink ek dis nou hoog tyd dat die Augustuswinde enige negatiewe sentiment wegwaai en dat kopers nie langer op die draad sit nie maar met ‘n positiewe benadering die mark betree.
“Ons hou die moontlikheid om ons eie ‘gelukkige einde’ te bewerkstellig in ons eie hande en behoort die doemprofete wat ‘n rampspoedige toekoms voorspel op hul neuse te laat kyk.”
UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com