Daar was die afgelope twee jaar ‘n beduidende toename in die persentasie huisaankope wat met kontant eerder as verbandfinansiering betaal is – maar nie al dié kopers is beleggers wat winskopies in ‘n swak mark koop met die oog om sulke eiendom te verhuur nie.
“Al hoe meer van dié kopers,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, “is mense wat weens die resessie baie sku is vir skuld en eiendom koop met spaargeld, beleggings wat losgemaak word of miskien met die opbrengs uit ‘n eiendom wat hulle verkoop.”
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat dit inderwaarheid een van die grootste redes is waarom kleiner huise al hoe gewilder word en waarom woonstelle en meenthuise voorkeur bo groot wonings geniet.
“Die leefstyl in deeltitelkomplekse val egter nie in almal se smaak nie en al hoe meer kontantkopers oorweeg dit om hul kontantgeld te gebruik om self huise op vrypagerwe te bou.”
Die stygende gewildheid van selfbou word duidelik verbeeld deur die treffer televisiereeks Grand Designs en die tentoonstellings wat daaruit voortvloei maar, sê Everitt, die meeste selfdoen-geesdriftiges het nie almal sulke luukse ambisies nie.
“Gewoonlik wil hulle net ‘n beskeie maar gerieflike huis hê waarvoor hulle uit eie sak kan betaal sonder dat dit nodig is om ‘n banklening aan te gaan – en verkieslik ‘n huis wat omgewingsvriendelik en energiedoeltreffend is sodat hulle benewens die besparing aan verbandkostes ook elke maand uitgawes aan water en elektrisiteit kan besnoei.”
Dit blyk verder uit die honderde boeke en webtuistes wat op selfdoengeesdriftiges gemik is, sê hy, dat baie van die materiale en metodes wat bespreek word baie nuttig gebruik kan word om Suid-Afrika se behuisingstekort op ‘n kostedoeltreffende wyse aan te spreek terwyl dit broodnodige werkskepping in die hand kan werk.
ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.com