Somer: Sink of swem vir huiseienaarsverenigings

Met die somer op hande is dit nou ‘n voordelige tyd vir huiseienaarsvereningings in woonlandgoedere met gemeenskaplike swembaddens om aandag aan die nodige onderhoud en veiligheidsmaatreëls te gee om ‘n sorgvrye somer te verseker.

Dit is die mening van Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, wat sê: “Talle faktore, soos weersomstandighede, temperatuur, reën, sonskyn, blare, olie, sonbrandmiddels en sweet, beïnvloed die suiwerheid en helderheid van swembadwater en dit is dus belangrik om die water gereeld te laat toets (twee keer per week in die somer) asook om meganiese en veiligheidstoerusting na te gaan. Dit is ook raadsaam om rekord te hou van enige waterbehandeling en gebruik van chemikalieë.

“Plaveisel en die swembadteëls, stopverf en binne oppervlak van die swembad behoort ook voor die somerseisoen nagegaan te word om seker te maak dat dit in goeie toestand is, en swembadfilters moet gereeld skoon gemaak word om goeie watersirkulasie te bevorder.”

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat huiseienaarsverenigings ook sal moet besluit of swembadonderhoud intern gedoen gaan word en of ‘n kontrakteur gehuur gaan word en die bykomende koste by eienaars se maandelikse heffing gevoeg gaan word.

Oor swembadveiligheid sê Everitt dat daar nie ‘n plaasvervanger is vir voldoende volwasse toesig wanneer die swembad gebruik word nie – en stewige omheining wanneer dit nie in gebruik is nie. In die meeste streke van Suid-Afrika bepaal munisipale regulasies dat ‘n 1,2m hoë omheining met ‘n hek wat serlf toemaak en ‘n peuterbestande slot aangebring moet word.

“En swembadreëls, wat deur alle eienaars in ‘n landgoed onderskryf moet word, moet aan elke woning verskaf word en ook opsigtelik by die ingang van die swembad vertoon word. Reëls behoort ‘n verbod teen alleen-swem, uitbundige speletjies in of rondom die swembad en die verbruik van alkohol in of rondom die swembad in te sluit.”

Hy sê huiseienaarsverenigings moet ook seker maak dat daar ‘n eerstehulpkassie en reddingtoerusting soos ‘n ringboei, lewensreddershaak en rugbord beskikbaar is en dat dit maklik toeganklik is.

“En, laastens, moet swembadchemikalieë met sorg hanteeer en geberg word. Dit is potensieel gevaarlike stowwe en moet in die oorspronklike houers in ‘n koel, droë en goed geventileerde plek met ‘n stewige slot geberg word.”

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.com