Maak voorsiening vir heffings

Heffings is onvermydelik wanneer jy deeltitel-eiendom koop en jy behoort dus uit die staanspoor daarvoor te begroot om seker te maak dat jy dit benewens jou huislening se maandelikse paaiement kan bekostig.

Dit is die raad van Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Hy sê talle huiskopers – in besonder eerste kopers – is steeds onseker oor die doel en funksie van sulke heffings.

Die heffing is ‘n bedrag wat elke eienaar in ‘n deeltitelskema maandeliks in die beheerliggaam se rekening betaal om uitgawes vir die herstel, onderhoud, beheer en administrasie van gemeenskaplike eiendom te dek. Dié uitgawes sluit in munisipale belasting en diensfooie vir die gemeenskaplike eiendom, sekuriteit, tuindienste, opruiming, lone en salarisse en die versekeringspremies vir die skema as geheel.

“In skemas wat goed bestuur word,” sê Everitt, “sal dit ook ‘n bydrae tot ‘n reserwefonds insluit. So ‘n fonds is ‘n soort spaarplan om vir groot en ongereelde uitgawes, soos die verf van die geboue of onverwagte herstelwerk, soos byvoorbeeld vervanging van ‘n hysbak, voorsiening te maak. Dit voorkom gewoonlik dat eienaars benewens hul gewone maandelikse heffings ‘spesiale heffings’ moet betaal om sulke ongewone uitgawes te dek.”

Hy skryf in die jongste uitgawe van die nuusbrief, Property Signposts, dat kopers in ‘n deeltitelskema eerstens moet uitvind hoe heffings bereken word. “In die meeste skemas word dit bepaal deur die vloeroppervlak van ‘n eenheid deur die algehele oppervlak van alle eenhede in die skema te deel – en eienaars van groter eenhede betaal dus meer as eienaars van kleiner eenhede.

“Daar is egter ander metodes om heffings te bereken en voornemende kopers moet dus vasstel wat hulle maandelikse heffings gaan beloop sodat enige onsekerheid uit die staanspoor uitgeskakel kan word. Hulle behoort ook uit te vind hoe groot die jaarlikse verhogings gewoonlik is voordat hulle ‘n transaksie beklink.

“Hulle behoort ook uit te vind of daar enige spesiale heffings van krag is of vir die toekoms beplan word. En hulle moet verder in gedagte hou dat ‘n motorhuis of stoorkamer by die vloeroppervlak ingesluit gaan word en dus hul heffings kan opstoot."

En bowenal, sê hy, moet kopers besef dat die betaling van heffings deur deeltiteleienaars nie opsioneel is nie. Dit word inderdaad deur die wet vereis en enige versuim om heffings te betaal kan tot beslaglegging lei en die eiendom kan verkoop word om die uistaande heffings te verhaal.

UITGEREIK DEUR
CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com