‘n Oplewing in George se eiendomsmark lyk waarskynlik danksy toenemende aktiwiteit in dié gewilde dorp aan die Tuinrroete.
Dit is die mening van Pieter van Rensburg, hoofagent van die plaaslike Chas Everitt International-franchise, wat daarop wys dat die plaaslike mark steeds lewe toon en gereed is vir die opswaai wat hy vir die begin van 2010 voorspel.
Eiendom in alle prysklasse, vanaf R550 000 tot R12m, verkoop bestendig en kontantkopers is nou in die meerderheid, sê hy. Gebiede wat die beste vaar sluit in Blanco, Fancourt, George-Oos, Denneoord, Glen Barry, Heather Park en Glentana. Eiendomme in dié woonbuurte wissel van basiese woonstelle met twee slaapkamers wat ‘n bietjie opknapping nodig het tot luukse spogwonings.
Terselfdertyd is daar ook nuwe tekens van ‘n oplewing in eiendomsontwikkeling, sê hy.
“Projekte wat vroeër op die langebaan geskuif is, word nou weer aangepak, Dit sluit in twee woonstelblokke wat in die middedorp opgerig gaan word. Die Blue Mountains aftree-oord is ook onlangs voltooi en terreinwerk by ‘n aantal ander woonontwikkelings gaan binnekort begin.
“Die Lagoon Bay gholflandgoed wat vir Glentana beplan word het ook die groen lig gekry, ‘n ietwat omstrede besluit in die lig van George se watertekorte.”
Van Rensburg skryf die oplewing in werksaamhede toe aan die jongste rentekoersverlagings, beter sentiment onder kopers en die feit dat George byval vind onder kopers uit alle oorde.
“George geniet ‘n lae misdaadsyfer, bied ‘n aantreklike leefstyl en het al die nodige infrastruktuur. Die Karoo, omliggende woude en see is binne maklike bereik en baie kopers verkies om hier te woon en elke tweede week na Johannesburg of Pretoria te pendel eerder as om permanent in dié besige stede te woon.
“Gesinne verhuis ook hierheen danksy die talle uitstekende skole in die omgewing terwyl professionele mense hier kom woon om uit die stadslewe te ontsnap. Toeriste maak ook weer 'n verskyning en dit stut eiendomsverkope."
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Pieter van Rensburg
044 874 6010 of besoek