Verkoop eers voor jy nuwe huis koop

Talle huiseienaars beoog om geleenthede in die heersende mark te benut om beter eiendom te koop en maak koopaanbiedinge op groter en beter eiendom nog voordat hulle hul bestaande huise in die mark plaas.

Daar is ooglopend sekere voordele daaraan verbonde om ‘n nuwe huis te koop voordat jy die ou huis verkoop, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Dit sluit in die feit dat jy vooraf weet waarheen jy gaan verhuis, wanneer jy kan intrek en hoeveel jy sal moet opdok.

“En as jy eers koop beteken dit gewoonlik ook dat jy nie twee keer hoef te trek nie. Verkopers bevind hulle soms in die posisie dat hulle ‘n tyd lank self eiendom moet huur as hulle nie betyds ‘n geskikte huis kry om te koop teen die tyd dat hulle die verkoopte eiendom vir die nuwe eienaars moet ontruim nie.”

Maar, sê hy, dit is nie altyd die beste benadering nie. “In die eerste plek is daar ‘n goeie kans dat dit langer gaan neem om jou bestaande huis te verkoop as wat jy verwag het en dat jy straks betalings op twee verbande sal moet maak.

“Sulke dubelle betalings kan vinnig tot ‘n aardige bedrag groei en dit kan moontlik daartoe lei dat jy onder druk kom om die prys op jou ou huis te verlaag net om dit verkoop te kry.”

Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat dit altyd ‘n blink plan is om ‘n bietjie huiswerk te doen voordat jy enige besluite neem. “Vind by betroubare eiendomsagente in jou buurt uit wat die markwaarde van jou bestaande huis is en vind ook meer uit oor die heersende marktoestande. Heers daar nou ‘n kopers- of verkopersmark in jou voorstad? In ‘n gunstige verkopersmark is jou kanse op ‘n vinnige transaksie veel hoër as in ‘n sagter mark.

“Jy behoort ook vas te stel of daar enige probleme met jou huis is wat ‘n transaksie kan vertraag. Is dit reg oorkant ‘n skool waar geraas ‘n probleem kan wees? Of is dit straks reg langs ‘n besige snelweg? Is daar ‘n motorhuis of tweede badkamer? Is die uitleg van die huis ongerieflik?”

Met sulke inligting tot jou beskikking, sê hy, sal jy makliker die risiko’s verbonde aan die koop van ‘n nuwe eiendom voordat jy die oue verkoop het, kan opweeg. Indien jou huis waarskynlik vinnig sal verkoop mag dit jou die moeite loon. Maar as daar enige twyfel is, behoort jy die konserwatiewe benadering sterk te oorweeg.

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.co.za