Redes waarom jy nou in luukser eiendom kan belê

Die laagste rentekoerse in drie dekades, gekoppel aan moeilik bekombare krediet en eiendomspryse wat onder druk is, maak dit nou voordelig vir huiseienaars om na beter of meer luukse eiendom op te gradeer.

“Dis waar dat talle mense weens geldelike redes afskaal,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, “maar volgens die jongste eiendomsbarometer van ENB gee sowat 16% van huisverkopers opgradering aan as die rede waarom hulle verkoop. Daar is altyd mense wat ‘n groter huis nodig het om byvoorbeeld ‘n groeiende gesin te huisves, of wat na ‘n meer luukse buurt wil verhuis,” sê hy.

“Heelwat mense wat hoofsaaklik weens kommer oor sekuriteit verkoop, verhuis ook gewoonlik na duurder eiendom in omheinde landgoedere en ons ervaar ook dat baie afgetredenes wat groot gesinshuise verkoop ook geneig is om meer luukse buurte of luukse afwerkings te teiken wanneer hulle kleiner aftree-eiendom koop.”

En nou, sê hy, is ‘n baie voordelige tyd om so ‘n skuif te maak. “’n Volle nege uit tien verkopers is bereid om hulle pryse te verminder om ‘n transaksie deur te hak en die gemiddelde konsessie is sowat 11%. Boonop verwag ons dat dié bereidwilligheid om te onderhandel in die volgende paar maande gaan toeneem namate verkopers onder druk kom om voor die einde van die jaar te verkoop indien hulle na ander sentra moet verhuis, asook die moontlikheid van ‘n styging in die rentekoers wat hul houkoste gaan verhoog en boonop die moontlikheid kan verskraal dat hulle huislenings vir hulle volgende aankoop gaan bekom.”

Everitt sê dis vanselfsprekend dat niemand ‘n “verlies” wil maak wanneer hulle eiendom verkoop nie maar verkopers wat beplan om op te gradeer begin nou insien dat daar groot voordele daaraan verbonde is om vinnig te verkoop sodat hulle hul planne kan deurvoer.

“As jy byvoorbeeld ‘n eiendom ter waarde van R1m bemark en jou prys met 11% moet laat sak om ‘n transaksie te beklink, gaan jy R110 000 “verloor”. Maar as jy dan ‘n huis ter waarde van R1,5m teen ‘n toegewing van 11% kan koop, met ander woorde teen R1,335m, is jou netto opbrengs R55 000,” sê hy.

“En as jy nou tot die stap oorgaan terwyl rentekoerse nog laag is behoort dit baie makliker te wees om ‘n verband te bekom om die eiendom te finansier as wat dit sou wees as rentekoerse hoër is – en die verwagting is inderdaad dat koerse later vanjaar gaan begin styg. Die huishoudelike inkomste wat vir ‘n lening van R1,2m vereis word is nou sowat R37 000 per maand maar as jy wag tot rentekoerse byvoorbeeld tot 10% styg, sal die vereiste inkomste vir dieselfde verband tot R39 000 per maand styg.”

Kortom, sê hy, die heersende mark bied ‘n seldsame geleentheid om “baie meer huis vir jou geld te koop” – en om hoër as gemiddelde groei in waarde te geniet wanneer eiendomspryse weer begin styg.

ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.com