Chemikalieë wat uit platiekprodukte kan loog het wêreldwyd waaskuwingsligte laat flikker en verbruikers moet hulleself van die gevare vergewis.
Bisfenol A, of BPA, is byvoorbeeld ‘n sintetiese vorm van die hormoon estrogeen wat in harde plastiek gebruik word, en word verbind met hartsiektes, suikersiekte en gedrags- en voortplantingsprobleme. Ftalate – middels wat plastiek meer buigbaar maak – word ook aan voortplantingsprobleme gekoppel.
En hoewel verdere navorsing nog gedoen word, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, het verskeie lande reeds waarskuwings uitgereik of die gebruik van dié middels in plastiekprodukte verban, veral in produkte wat op babas of kinders gemik is.
“Totdat die minimumvlakke vir veiligheid van dié middels bepaal is, maak dit sin om jou blootstelling daaraan sover moontlik te beperk.”
Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat verbruikers alternatiewe materiaal soos glas, porselein of vlekvrye staal kan gebruik om kos voor te berei of te berg, en raai hulle aan om nooit kos in platiekhouers in ‘n mikrogolfoond gaar te maak of op te warm nie, aangesien hitte dié chemikalieë makliker kan laat uitloog en dit voedsel kan besmet.
Jy kan ook kinders se kosbakkies van plastiek vervang met bruin papierkardoesies of herbruikbare (en prettige!) materiaalsakkies. Heroorweeg ook die gebruik van plastiek baba- of waterbottels, veral as dit dikwels in ‘n warm kar gelos word. Probeer glasbottels of ‘n fles van vlekvrye staal in die plek van plastiekprodukte.
Jy behoort ook die gebruik van blikkieskos te beperk, aangesien baie blikkies met ‘n soort gom wat BPA bevat, uitgevoer word. En maak seker dat kinders se speelgoed van natuurlike stowwe, soos hout, gemaak is.
En laastens, probeer om seep, sjampoe, velmiddels en babapoeier sonder parfuum te gebruik, aangesien ftalate dikwels in bad- en skoonheidsprodukte gebruik word om geure te versterk.
Uitgereik deur Chas Everitt
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek