Afgetredenes herontdek gesinshuise
Afgetredenes verkies dikwels om na kleiner huise te verhuis wanneer hulle kinders op hulle eie bene kan staan - maar in die heersende mark waar dit al moeiliker raak om kopers vir gesinshuise te vind, steek ‘n nuwe gier kop uit.
“Al hoe minder seniors kla oor die feit dat hulle gesinshuise te groot is – en geniet inderdaad die geleentheid om plek in te ruim vir stokperdjies en belange wat op die langebaan geskuif is terwyl hulle hul gesinne versorg het,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.
“Hulle omskep nie net leë kamers in gastekamers en private studeerkamers nie, maar ook toenemend in spesialisruimtes soos volledige mediavertrekke wat klankdig gemaak word en met klankstelsels, groot televisiesekrms en gemaklike stoele toegerus word.”
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat ander gewilde keuses die volgende insluit:
Biblioteke, toegerus met leeslampe en gemaklike stoele, waar versamelings boeke wat oor dekades bymekaar gemaak is, uitgestal en geniet kan word;
“Kelders” waar spog wynversamelings uitgestal of saam met vriende geniet kan word;
Spesiale vertrekke waar hulle brug- of skaaktoernooie kan hou of biljart kan speel;
Private gimnasiums;
Kunsvlyt- of stokperdjievertrekke; en
Meditasiekamers.
“Dit lyk na ‘n baie gesonde neiging en stel afgetredenes in staat om die huis waaraan hulle jare lank afbetaal het, ten volle te geniet,” sê Everitt.
“Maar hulle moet versigtig wees om nie die eiendom te oorkapitaliseer nie of so eksoties in te rig dat dit later moeilik sal wees om te verkoop. Dit is dus ‘n goeie idee om hulle planne eers met ‘n kundige plaaslike eiendomsagent te bespreek.”
Utgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere besonderhede:
Berry Everitt
011 801 2500
of besoek www.chaseveritt.com