Koop sò 'n huis van die plan af

Dit kan problematies wees om eiendom van die plan af te koop, of jy nou 'n eerste huis, aftreeplekkie of 'n luukse meenthuis koop, en kopers moet op hulle hoede wees om nie 'n kat in die sak te koop nie.

"Die eerste voorsorgmaatreël is natuurlik om slegs sake te doen met 'n betroubare ontwikkelaar of bouer wat reeds bewys het dat hy 'n kwaliteit produk kan lewer, en wie se produkte by voltooide projekte besigtig kan word," sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

"Tweedens moet jy seker maak presies wat jy koop in terme van vloeroppervlak en afwerkings, en dat alles baie duidelik in die boukontrak uitgestippel word."

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat dit nie 'n ongewone verskynsel is nie dat ontwikkelaars 'n skou-eenheid bou wat groter is of beter afwerkings het as eenhede wat van die plan af bemark word.

"En in sommige gevalle word die koste van afwerkings glad eers nie by die geadverteerde prys van die eenhede ingesluit nie."

As jy dus beoog om 'n huis van die plan af te koop, sê hy, moet jy nie skroom om die bemarker onder kruisverhoor te neem oor presies wat by die prys ingesluit is nie. En as jy dan beter afwerkings verkies moet jy vooraf uitvind wat die ontwikkelaar jou daarvoor gaan vra.

"Derdens verdien finansiering deeglike aandag. Dit is dikwels 'n goeie plan om die ontwikkelaar se bank, wat reeds die projek goedgekeur het, te gebruik, veral as jou begroting knap is. Nie net sal dit makliker wees om 'n lening te bekom nie, maar jy mag selfs in aanmerking kom vir 'n spesiale leningspakket."

ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.co.za