Meer mense, groter geleenthede

‘n Nuwe nasionale sensus is net om die draai maar tendense in die jongste ramings wat deur StatsSA vrygestel is, dui reeds op goeie geleenthede wat klaar deur oordeelkundige eiendomsontwikkelaars en -beleggers opgemerk is.

“Volgens dié syfers,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, “is SA se bevolking net meer as 50m, waarvan sowat ‘n derde jonger as 15 jaar en 7% ouer as 60 jaar is.

“Dit beteken dat daar sowat 30m tussen die ouderdomme van 16 en 60 is – en indien net 5% van hulle oor die volgende 10 jaar ‘n nuwe huis gaan koop of huur gaan ons 1,5m nuwe behuisingseenhede nodig kry – en dit beteken sowat 150 000 eenhede per jaar!”

Dit verduidelik, sê hy, waarom sommige ontwikkelaars met nuwe geesdrif na die behuisingsmark keer, veral gesien in die lig van banke wat verskeie inisiatiewe van stapel gestuur het om dit vir eerste kopers en kopers in die laer inkomstegroepe makliker te maak om huislenings te bekom.

Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat die aantal bouplanne wat in die eerste vyf maande vanjaar deur groot munisipaliteite goedgekeur is met 7% gestyg het in vergelyking met die ooreenstemmnde tydperk in 2010 maar dat verdere ontleding toon dat daar ‘n yslike 21% styging was in die aantal planne wat spesifiek vir woonstelle en meenthuise goedgekeur is – die eenhede wat die grootste gunstelinge onder nuwe kopers en huurders is.

“Dié planne behoort oor sowat 18 tot 24 maande tot voltooide eenhede te lei maar die eintlike syfer vir dié eenhede is slegs sowat 5000 terwyl planne wat in dieselfde tydperk vir nuwe kleiner huise goedgekeur is net sowat 8500 beloop – nie naastenby genoeg om in die verwagte vraag te voldoen namate die ekonomie verbeter en werkskepping toeneem nie.”

Terselfdertyd, sê hy, toon aankope van behuising om te verhuur weer tekens van groei omdat beleggers met ‘n langer toekomsblik stygende vraag na huureenhede verwag en heersende laer pryse en lae rentekoerse benut om voorraad te bekom.

“Maar volgens ENB is die persentasie van alle aankope deur kopers wat die eiendom gaan verhuur steeds slegs sowat 8% - veel minder as die 25% tydens die jongste oplewing in die bedryf – en dit beteken dat baie beleggers te laat gaan wakker skrik om voordeel uit dié verwikkeling te behaal.”

UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com