Natuurrampe in verskeie dele van die wêreld vanjaar, wye politieke protes, finansiële skommelinge en krimpende werksgeleenthede in Brittanje, Amerika en Europa laat baie Suid-Afrikaners in die buiteland daaraan dink om na SA terug te keer.
So sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. “Selfs voor die onlangse onluste en geweld in Londen het ons verskeie oproepe en Internet-navrae per maand van Suid-Afrikaners in die buiteland ontvang wat wil terugkeer en na woonhuise soek, sowel as van Suid-Afrikaners in die buiteland wie se werkskontrakte verstryk en wat beplan om terug te keer.
“Die navrae het nou toegeneem en selfs as dit na vroeër vlakke terugkeer glo ons daar is nou ‘n uitstekende kans dat SA van die vaardighede wat nodig is om meer werksgeleenthede te skep, kan terugwen – mits die regering nie die proses met onrealistiese en moeilike immigrasieprosesse in die wiele ry nie.”
Hy sê kommer oor die nasionalisering van bates en stygende belasting skrik Suid-Afrikaners in die buiteland, wat wil terugkeer, ook af, “en baie mense waarmee ons skakel spreek ook kommer uit oor misdaad en die ernstige gebreke in die opleidings- en gesondheidstelsels, veral as hulle gesinne het.
“Die grootste belangstelling kom egter van jonger mense sonder sulke verpligtinge en die gemene deler is dat hulle ernstige probleme in alle wêrelddele merk – of minstens die moontlikheid dat sulke probleme vinnig kan ontstaan – en verkies om na SA terug te keer waar hulle die ondersteuningsnetwerk van familie en vriende het en enige probleme wat mag opduik in ‘n bekende kulturele en finansiële raamwerk die hoof kan bied.”
Vir ander is die motivering bloot finansieel, sê Everitt. “Hulle is terdeë bewus van die feit dat daar wêreldwyd ‘n tekort aan talent en vaardighede is, asook aan die ondernemingsgees waarvoor Suid-Afrikaners bekend is. En hulle maak staat op die feit dat talle plaaslike maatskappye nou bereid is om uitstekende pakkette aan mense met ervaring in die buiteland en wat bereid is om in SA te werk, te bied – selfs al bly hulle net lank genoeg om ‘n plaaslike opvolger op te lei.”
En dan, sê hy, is daar diegene wat danksy nuwe perspektief wat hulle na ‘n paar jaar in die buiteland verkry het, uitstekende sakegeleenthede in SA sien, al is dit ‘n riskante mark – en hulle kan heel moontlik die grootste potensiële bydrae tot werkskepping maak en behoort dus met ope arms terug verwelkom te word.
Everitt sê toesluit-en-ry eiendom in woonlandgoedere en sekuriteitskomplekse in die prysklas van tussen R850 000 en R1,2m is in die grootste aanvraag onder mense wat na die land wil terugkeer.
UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com