Koel af voor jy vakansiebesluite deurvoer

Daar is elke jaar ‘n paar mense wat tydens ‘n ontspannende somervakansie verlief raak op hul bestemming en besluit om hul gewone lewe vaarwel toe te roep en te verhuis.

Eiendomsagente bemerk dié tendens gereeld, veral in kusdorpe waar die vakansieseisoen gewoonlik deur fantastiese weer, ‘n ontspanne en vriendelike atmosfeer en besige kasregisters gekenmerk word – en dis natuurlik ‘n aanloklike kombinasie vir enigeen wat uit ‘n besige lewe wil ontsnap, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“En hoewel dit dikwels ‘n slim plan is om ‘n vakansiehuis of huureenheid in ‘n gewilde toeristebestemming te koop, moet mense wat steeds moet werk of ‘n onderneming bedryf om ‘n inkomste te verdien goed nadink voordat hulle sak en pak see toe verhuis.”

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat talle plekke wat uitstekende vakansie- of selfs aftreegeriewe bied nie altyd werks- of sakegeleenthede vir permanente inwoners bied nie aangesien daar min buite seisoen gebeur.

“As jy dus ‘n werk vind of ‘n bestaande onderneming kan koop moet jy seker maak dat seisoenale inkomste genoeg sal wees om jou vir die res van die jaar te dra.”

En selfs in plekke waar daar klaarblyklik ruimte vir nuwe ondernemings is wat nie seisoengebonde is nie, maan Everitt dat verbruikers behoort te wag totdat die goeie vakansiebui effens gesak het voordat hulle enige besluite neem wat hul lewens ingrypend kan verander.

“As jy na so ‘n breuk steeds vasbeslote is om te verhuis, behoort jy professionele advies in te win en jou sommetjies goed bekyk voordat jy enige beleggings maak.”

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.com