Press Release - 15 November

Hoe om reg te koop in ‘n stadiger mark

Dis nie so eenvoudig om ‘n huis in ‘n stadiger mark te koop as wat dit mag klink nie, en kopers moet steeds slaggate vermy.

Diè waarskuwing kom van Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Hy maan dat alhowel huise in groter voorraad in baie eiendomsmarkte regdeur die land is – moet kopers steeds koopbesluite op gesonde redes grond.

“Stadiger markte bied meer ruimte vir prysonderhandelings omdat daar groter voorraad en minder kopers is. Maar dit is nie lonend om net ‘n transaksie te beklink teen ‘n prys wat laer is as die prys wat die verkoper gevra het nie – kopers moet ook seker maak dat daar waarde in die eiendom oor die langer termyn is.”

Dit is belangrik om die langtermyn vooruitsigte van ‘n gekose gebied in oënskou te neem. Faktore wat aandag verdien, sluit in bevolkingsgroei, meer werksgeleenthede, en die bou van nuwe wooneenhede.

“As die bevolking en aantal werksgeleenthede byvoorbeeld vermeerder en nuwe wooneenhede hou nie by dié neiging tred nie beteken dit dat vraag moontlik aanbod in die toekoms gaan oorskrei – en dit is ‘n seker teken dat waardes gaan groei en pryse onder opwaartse druk gaan kom.”

Maak ook seker dat jou geldsake in orde is voordat jy ‘n koopaanbod maak. “Met strenger kredietmaatreëls nou van krag, is dit nie ‘n uitgemaakte saak dat ‘n bank of ander instelling ‘n verband gaan toestaan nie, selfs al het jy ‘n laer prys met die verkoper beding”, sê Everitt.

Moet ook nie voor die versoeking swig om die eerste en beste eiendom wat na ‘n winskoop lyk, te koop nie. “Hou by basiese reëls, soos ‘n lys van kenmerke in ‘n huis wat onontbeerlik is. En dit is die moeite werd om ‘n konserwatiewe benadering te volg – dit maak nie veel sin om ‘n huis wat te groot vir jou behoeftes is te koop net omdat jy die prys kan bekostig nie.

“En laastens, moenie deur aantreklike pryse verblind word nie. Volg basiese beleggingsbeginsels en maak seker dat die eiendom waarop jy besluit waarde bied. Jy sal dankbaar wees die dag wanneer jy die eiendom weer moet verkoop”, sê Everitt.

Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir nadere inligting:
Berry Everitt
Chas Everitt International
011 801 2500
of besoek - www.ChasEveritt.com