Kry meer inligting oor jou besturende agent

Bestuur van eiendom namens huisbase is nou een van die sektors in die eiendomsbedryf wat die beste groei toon ondanks die feit dat koop-om-te-verhuur beleggings nou slegs sowat 7% van eiendomsaankope verteenwoordig tenoor sowat 25% in 2004.

"Die hoofrede is dat eienaars sowel as huurders die afgelope twee jaar al hoe groter finansiële druk ervaar en eienaars nie wanbetalings deur huurders kan bekostig nie," sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

"Baie mense besit steeds verskeie huureiendomme wat hulle tydens die markoplewing gekoop het en is nou in 'n posisie waar een swak betaler hulle algehele portefeulje in gevaar kan stel.

"Maar huiseienaars wat die meeste blootgestel is, is eienaars onder finansiële druk wat nie hul eiendom in 'n swakker mark kon verkoop nie en dit verhuur om hulle verbandbetalings te dek terwyl hulleself elders goedkoper eiendom huur."

Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat hoewel dalende rentekoerse die voorkoms van nie-betaling of gedeeltelike betaling onder huurders sedert verlede jaar laat afneem het, is die syfers volgens die jongste opname van huurbetalings deur TPN steeds sowat 20% (een uit vyf) in die meeste gebiede en inkomstegroepe.

"Lae inflasie en stygende fooie vir munisipale dienste gaan huisbase waarskynlik ook verhoed om huurgeld daadwerklik te verhoog, wat beteken dat hulle min, indien enige, reserwes gaan hê indien 'n huurder nie sy huurgeld betaal nie."

Kortom, sê hy, is dit waarskynlik dat die behoefte aan en vraag na kundige hulp in die bestuur van huureiendom verder gaan toeneem. Daar is egter 'n paar belangrike kwessies wat eienaars in aanmerking moet neem voordat hulle 'n agent aanstel om die eiendom namens hulle te bestuur. Dit sluit in:

- Die agent moet by die Raad op Eiendomsagentskapaangeleenthede geregistreer wees en moet 'n trustrekening hê waarin huurders se deposito's inbetaal word;

- Die agent moet ten minste ingeskryf wees om sy of haar NQF4 of NQF5 kwalifikasie teen die einde van 2011 te verwerf - dié kwalifikasies gaan teen 2011 'n voorvereiste wees vir agente om te praktiseer;

- Die agent moet in staat wees om voornemende huurders se kredietwaardigheid en betalingsgeskiedenis na te gaan en moet ook kan bevestig dat voornemende huurders nie aan skuldoorsig onderwerp is nie;

- Die eienaar moet seker maak dat die agent in geen omstandighede sleutels aan huurders sal oorhandig voordat die deposito en die eerste maand se huur ten volle betaal is nie; en

- Die eienaar moet seker maak daar is 'n geskrewe kontrak wat duidelik uitstippel watter dienste die agent vir die bestuursfooi sal verskaf - en of dié bedrag 'n sekere persentasie van die huurgeld verteenwoordig.

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere besonderhede:
Barry Davies
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.com