Wanneer is die tyd reg om op te gradeer?

Daar is baie redes waarom huiseienaars dit oorweeg om groter of luukser eiendom te koop, soos gebrek aan ruimte vir ‘n nuwe tuisonderneming, kinders wat groot word, bejaarde ouers, of miskien net die wens om in ‘n beter buurt te woon.

Maar, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, hulle moet eers seker maak dat die meeste van die volgende aanduiders positief is voordat hulle die sprong waag:

- Inkomste. Opgradering sal waarskynlik beteken dat die terugbetaling op jou huislening elke maand groter gaan wees. Jy moet jou begroting en jou vooruitsigte oor betrekking en salaris deeglik in oënskou neem om te bepaal of so ‘n stap wenslik is.

- Rentekoerse. Lae rentekoerse, soos nou die geval is, maak dit makliker om vir huislenings te kwalifiseer en beteken ook dat jy meer huis vir dieselfde som geld kan koop – en dit is straks nou ‘n goeie geleentheid om op te gradeer. Maar jy moet onthou dat koerse vinnig kan styg en jy moet seker maak dat jy die groter maandelikse terugbetaling sal kan bekostig indien koerse wel styg.

- Kredietwaardigheid. Jou aansoek vir ‘n nuwe huislening sal waarskynlik nie toegeken word nie as jy ‘n swak kredietrekord het – selfs wanneer rentekoerse laag is en jy ‘n goeie inkomste verdien. Voordat jy dus na ‘n groter of luukser huis begin soek behoort jy ‘n verbandkonsultant te besoek om vas te stel of die banke jou as ‘n goeie kandidaat sal beskou en hoe groot die lening is wat hulle bereid sal wees om aan jou toe te staan.

- Ekwiteit. Dit kan hou help om ‘n groot verbandbetaling te vermy. Indien jy beduidende ekwiteit in jou huidige woning opgebou het en dit kan realiseer wanneer jy verkoop, kan jy dié bedrag benut om ‘n aansienlike deposito op jou nuwe eiendom te betaal.

- Marktoestande. Toestande in jou plaaslike mark moet gunstig wees om jou huis te kan verkoop en ekwitiet te realiseer. Jy behoort ‘n betroubare plaaslike eiendomsagent te nader om meer inligting oor die stand van jou plaaslike mark te bekom.

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoekwww.chaseveritt.com