Press Release - 14 July 2008

Geleenthede vir kopers in Kaapstad

Wooneiendom in Kaapstad se middestad is steeds in aanvraag ondanks ‘n mark wat in die algemeen verstadig het – en daar is nou geleenthede vir enrstige onderhandelinge oor pryse.

Kopers het nou ‘n speling in onderhandelings, sê Heather van der Spuy, mede-eienaar van Chas Everitt International se City Bowl-kantoor. “Vraag hier droog nooit op nie omdat kopers ‘n leefwyse koop. Nogtans neem eiendom nou langer om te verkoop, wat druk op verkopers plaas en die weg baan vir prysonderhandeling,” sê sy.

Die meeste kopers toon weerstand teen pryse hoër as R2m. Van der Spuy noem die voorbeeld van ‘n dakwoonstel in die luukse Perspective-woonstelblok wat vir R2,7m bemark is maar eers agt maande later ‘n koper gekry het wat bereid was om R1,95 te betaal.

“Eiendomme in die middelmark wat meer as R2m kos, kry nie veel aftrek nie. Maar terselfdertyd is daar nog ‘n paar transaksies in die luukse mark, waar pryse tot so hoog as R20m kan klim.”

Eiendomme met markverwante pryse bly nou sowat vyf maande in die mark voordat hulle kopers kry. Eiendomme waarvan die pryse te hoog is, kan tot ‘n jaar in die mark bly. Van der Spuy sê dat die meeste verkopers nou bereid is om bemarkingsmandate van ses maande pleks van die gewone drie maande toe te ken.

“’n Mens moet egter byvoeg dat daar nog ‘n paar baie verwarde verkopers is wat heeltemal uit pas met heersende marktoestande is. In ‘n onlangse geval het ons ‘n gewillige koper gekry vir ‘n oulike twee-slaapkamer kothuis wat reeds 19 maande in die mark geluier het. Die vraprys was R1,95m en die koper het R1,7m aangebied. Die verkoper het op goedbedoelde regsadvies die aanbod van die hand gewys in die misplaasde vertroue dat die vraprys haalbaar is.”

Sy sê die huurmark word nou bevoordeel, veral in die sektor vir studentebehuising.  “Ons het ‘n toestroming van ouers gehad wat na geskikte eiendom om te koop gesoek het – maar die meeste het maar besluit om verblyf vir hulle kinders te huur.”

Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir nadere inligting:

Heather van der Spuy

Chas Everitt City Bowl

021 422 1488 of besoek

www.chaseveritt.com

Hierdie gerestoreerde Victoriaanse-boustyl huis in Zonnebloem is in die mark vir R1,85m. Dit het 3-slaapkamers, dubbel motorhuis en ‘n asemrowende uitsig.

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net