As jy daarvan droom om eenvoudiger te leef en aan werksdruk, bekommernisse oor sekuriteit en hoë munisipale belasting, wat eie aan stede en groot dorpe is, te ontsnap, is dit dalk nou ‘n goeie tyd om na die platteland te verhuis.
“Die rede waarom klein dorpies voornemende inwoners meer as net rus en vrede kan bied is dat wooneiendom nou uitstekende waarde verteenwoordig,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.
Volgens ENB se eiendomsbarometer, sê hy, het die prysindeks vir groot metros ‘n toename van 4,7% in die eerste kwartaal vanjaar getoon terwyl die indeks vir plekke wat banke “vakansiedorpe” noem in dieselfde tydperk met 6,9% afgeneem het.
En in reële terme was die gemiddelde huisprys in groot stede R1,1m teenoor die gemiddeld van R794 000 in die vakansiedorpe.
Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat Absa se jongste syfers ook in die eerste kwartaal prysstygings in die meeste metropolitaanse gebiede - en boonop verstommende stygings in groot vakansieplekke of plekke waar mense tweede huise koop, soos die Kaapse Weskus, die Tuinroete en KwaZulu-Natal se Suidkus - aangee.
Maar pryse in meer landelike provinsies soos die Oos-Kaap, Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga daal steeds.
“Kortom, dié statistiek toon dis moontlik om jou stadshuis te verkoop en ‘n aardige bedrag kleingeld oor te hou nadat jy ‘n tuiste op die platteland gekoop het.
“Daar is natuurlik ‘n paar voorbehoude en so ‘n groot skuif behoort nie op die ingewing van die oomblik gemaak te word nie. As jy byvoorbeeld elke dag deur swaar verkeer na jou werkplek moet pendel sal die glans van ‘n plattelandse tuiste waaskynlik gou verdof gemeet aan jou frustrasievlakke en hoë brandstofkoste.
“Aan die ander kant is dit ook baie riskant om al jou pensioengeld in ‘n klein onderneming op ‘n plattelandse dorpie te sink voordat jy ‘n ruk lank self daar gewoon het, jou huiswerk deeglik gedoen het en seker gemaak het jou idee is lewensvatbaar.
“Maar as jy reeds ‘n onderneming van die huis af of aanlyn bedryf of dit vinnig op die been kan bring, of as jy reeds ‘n gevestigde telewerker is, is dit dalk nou hoog tyd om ‘n voordelige skuif na die platteland te maak.”
ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.com