Dis nie net volwassenes wat die afgelope 10 tot 20 jaar groot veranderinge in hul leefstyl ervaar het nie - kinders se behoeftes het ook beduidend verander en kan 'n groot invloed uitoefen op die keuse van 'n gesinshuis.
Die mees ooglopende verandering, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, is natuurlik dat mense wat dit kan bekostig graag eiendom in omheinde leeflandgoedere koop waar kinders veilig buite kan speel.
"Terselfdertyd styg vraag na woonstelle en meenthuise in komplekse wat eie speelterreine, swembaddens en miskien selfs 'n kleuterskool bied. En in die voorstede verkies ouers huise naby aan skole wat ook genoeg ruimte en geleenthede bied sodat hul kinders tuis kan speel of ontspan."
Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat kenmerke wat by sulke ouers byval vind die volgende insluit: veilige speelruimte in die tuin, groot en sonnige slaapkamers, en genoeg binnenshuise speelruimte of 'n 'mediavertrek' waar kinders hul rekenaars kan gebruik en musiek kan speel sonder om die res van die huishouding te steur.
"En in huishoudings met jong kinders waar albei ouers buitenshuis werk, is bykomende huisvesting vir 'n kinderoppasser of au pair ook 'n groot bate."
Everitt sê voorts dat baie gesinne nou ook voorsiening daarvoor moet maak dat ouer kinders langer as in die verlede in die gesinshuis aanbly. "Ouer kinders kan dit dikwels net nie bekostig om elders te woon terwyl hulle studeer nie of om iewers te huur terwyl hulle vir 'n eie huis spaar nie.
"Gevolglik koop ouers met tieners in die gesin nou dikwels huise waar hul kinders later in 'n selfversorgende vleuel van die huis of in 'n tuinwoonstel kan aanbly."
ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.co.za