Beroep op staat: spreek onteieningsvrese aan
Die regering moet vinnig vrese besweer dat die nuwe onteieningswetgewing nie gebruik gaan word om grondvergrype soos in Zimbabwe toe te laat nie.
Die beroep word gedoen deur Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, wat sê: “Ek wil allermins spoke opjaag, maar die Wetsontwerp op Onteiening wat veronderstel was om laas maand al bekragtig te word maar terug getrek is deur Parlementêre regs-adviseurs, laat beslis ‘n paar alarms lui.”
Daar is vier groot knelpunte in die Wetsontwerp, sê hy. Die eerste is dat dit voorsiening maak dat eiendom onteien kan word in “openbare belang” eerder as vir ‘n spesifieke “openbare doel” soos ‘n pad, ‘n dam of ‘n skool, soos wat voorheen die geval was.
Die tweede probleem is dat die nuwe wetgewing geskoei gaan word op die grondslag van “onteien eers en praat later”. Dit sal eienaars wat ‘n onteiening wil teenstaan geen ander keuse laat nie as om ‘n duur regsgeding deur die howe op tou te sit – heel moontlik nadat hulle reeds hulle eiendom moes verlaat en gedwing was om enige vergoeding wat die Staat bereid was om te bied, te aanvaar.
“Derdens sal die nuwe wetgewing howe die reg ontneem om te besluit of die tydstip en wyse van die onteiening of die bedrag wat aan vergoeding betaal is, regverdig was. Howe sal slegs kan bepaal of die onteiening in die openbare belang was – en as ‘n mens in gedagte hou dat die regsproses tydsaam is, kan so ‘n beslissing moontlik gemaak word maande of self jare nadat die betrokke eiendom onteien is,” sê Everitt.
Die vierde probleem is, sê hy, dat die Wetsontwerp voorsiening daarvoor maak dat die “markwaarde” van eiendom wat vir onteiening geteiken word slegs deur die onteienaar bepaal word – sonder enige verwysing na die eienaar, ‘n waardeerder of enige ander onafhanklike konsultant.
“Kortom, indien die Wetsontwerp goedgekeur word sal die regte van die Staat bo die regte van die indiwidu gestel word – regte wat deur ons Grondwet beskerm word. Eienaars se private reg op eiendom sal met ander woorde onderhewig wees aan die bui van staatsamptenare.
“Boonop spreek talle mense kommer uit dat die term “eiendom” in die wetgewing geïntrepreteer kan word as enige vaste eiendom benewens landbougrond, soos byvoorbeeld myne, sake-ondernemings en stedelike geboue. Dit sou ooglopend die internasionale maatskappye en buitelandse beleggers wat SA so hard probeer lok, afskrik.
“En die wetgewing, wat kort op die hakke van stygende rentekoerse en lewenskoste, die kragkrisis en hoë misdaadvlakke volg, kan straks net die laaste strooi wees vir angstige SA verbruikers. Dit gaan waarskynlik baie sterk rekasie ontlok wat selfs meer mense kan oorreed om te emigreer – en vaardighede wat die land so dringend nodig het, landuit neem.
“Ons glo dus dat die regering van die geleentheid gebruik moet maak om die vrese wat uitgespreek is openhartig aan te spreek voordat die Wetsontwerp goedgekeur word – en om in ondubbelsinnige taal te verduidelik wat dit met dié wetgewing beoog.”
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere kommentaar:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek