As jou eiendomsagent nie jou huis wyd op die Internet adverteer nie verskraal jou kanse aansienlik om dit te verkoop.
"Dit blyk baie duidelik uit die jongste statistiek wat deur die Amerikaanse National Association of Realtors (NAR) vrygestel is na 'n 2011 opname onder meer as 80 000 huiskopers," sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.
"Die opname het getoon dat hoewel voornemende huiskopers verskeie bronne van inligting in hul soeke na eiendom benut het, die gewildste bronne die Internet (88%) en eiendomsagente (87%) was.
"Boonop het die meeste huiskopers (35%) heel eerste die Internet benut en hulle het eiendomspoorte meer gereeld as individuele eiendomsmaatskappye se webtuistes besoek. Slegs 21% het heel eerste 'n agent genader, terwyl 8% in hul geteikende buurt rondgery het op soek na 'n huis te koop."
Nog meer merkwaardig, sê hy, is dat 40% van die kopers wat aan die NAR-opname deelgeneem het, aangedui het dat hulle die huis wat hulle uiteindelik gekoop het op die Internet raakgeloop het, terwyl 35% gesê het dat hulle die eiendom deur 'n agent opgespoor het. Net 25% het dus hul koophuis elders gevind.
"Hoewel sulke statistiek vir SA nog nie beskikbaar is nie, glo ons dat die voorkeur vir Internet-soektogte hier ook geld - maar advertensies in die plaaslike drukmedia speel steeds 'n belangrike rol aangesien maklike en gereelde toegang tot die internet in SA nie vir alle voornemende kopers beskore is nie."
Terselfdertyd het die Mortgage Bankers Association (MBA) pas syfers bekend gemaak wat toon tot watter mate kopers die mark ondersteun, ondanks 'n gebrek aan toegang tot finansiering.
Die opname met die titel "The Great Recession and Attitudes Towards Homebuying", toon dat bykans 80% van Amerikaanse huishoudings dink dit is nou 'n goeie tyd om eiendom te koop, al plaas hoë werkloosheid en stadige groei sterk druk op die Amerikaanse ekonomie, sê Everitt. Verkopers, aan die ander kant, is baie negatief oor die mark, met net 7% wat glo dit is 'n voordelige tyd om te verkoop.
"Die opname toon verder dat 'n positiewe benadering tot huiskoop veral sterk is onder jong, goed-opgeleide huishoudings en dit kan toegeskryf word aan lae huispryse en lae rentekoerse. Ons dink dat dié verskynsel ook in SA water hou en dat sterk vraag en 'n beduidende styging in verkope op die oomblik slegs ingeperk word deur die probleme wat baie voornemende kopoers ervaar om finansiering te bekom.
Dit dui daarop dat verkope gaan styg sodra SA verbruikers hul kredietrekords herstel het en skuldvlakke onder beheer is - 'n proses waaraan talle verbruikers die afgelope paar jaar hard gewerk het."
ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.co.za