Press Release - 09 July 2008

Nelspruit se eiendomsmark stadiger maar bestendig

Nelspruit se eiendomsmark is bestendig danksy nuwe intrekkers wat huise koop en sakelui uit Gauteng wat langtermyn geleenthede vir groei in dié Laeveldse stad bespeur.

Spekulante wat tot onlangs nog baie aktief in die mark was, het nou beslis uit die mark getree, sê Charles Bell, verkoopsbestuurder by die plaaslike Chas Everitt International-kantoor.

“Mense wat nou koop is tipies professionele mense wat na Nelspruit verplaas is en eerste kopers wat in hulle eie eiendom wil belê. Dié twee marksegmente toon diepte, deels te danke aan die verskuiwing van provinsiale regeringskantore na Nelspruit.”

Hy voeg by dat strawwer marktoestande kopers se verwagtinge getemper het. “Veral kopers wat nou die mark betree is baie meer realisties en kundig – hulle verwag nie meer om sommer uit die staanspoor hulle droomhuis te kan koop nie,” sê hy.

Kopers het egter ‘n wye keuse. Bell sê daar was aansienlike nuwe ontwikkeling in Nelspruit tydens die onlangse oplewing in die mark danksy ontwikkelingsgrond wat beskikbaar gestel was. Intree-woonstelle in nuwe ontwikkelings wat nou bemark word kos tussen R490k en R500k.

Terselfdertyd, sê hy, is herverkope van nuwe eenhede ietwat onder druk, veral in gevalle van gedwonge verkope. “Kopers wat groei van tussen 20% en 30% verwag het – soos wat algemeen tydens die oplewing was – moet nou verlief neem met die feit dat groei in waardes verstadig het en dat hulle verkooppryse moet aanpas om tradisionele huiskopers, eerder as spekulante en beleggers, te lok.”

Hy sê daar is steeds beweging teen pryse van tussen R500k en R1m maar dat verkope in die middelmark van sowat R1,5 afgeplat het.

“’n Interessante kenmerk van die mark op die oomblik is dat sakelui uit Gauteng navraag doen. Baie beplan om te verhuis en het vertroue in toekomstige groei van die plaaslike ekonomie en sien dus sakegeleenthede.”

Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir nadere inligting:

Charles Bell

Chas Everitt Nelspruit

013 752 4141

of besoek www.chaseveritt.com


Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net