Hou jou grasperk ‘groen’

Vir talle huiseienaars is die reuk van pasgesnyde gras een van die somermaande se kenmerkende geure, maar as jy probeer om ‘n ‘groener’ leefwyse te handhaaf kan dit ‘n uitdaging wees om die afgesnyde gras behoorlik te hanteer.

"Die maklike antwoord is natuurlik om kompos te maak en dit te gebruik om grondgehalte en –vrugbaarheid te verbeter waarby die plante in die res van die tuin gaan baat vind,” sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. “Maar ongelukkig kan dit nogal ‘n uitdaging wees aangesien dit redelik moeilik is om kompos van gras te maak.”

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat grassnysels hoofsaaklik uit water bestaan en baie ryk aan stikstof is. Dié eienskappe kan probleme in komposhope en –houers veroorsaak aangesien grassnysels geneig is om vas te pak en dan anaerobies te ontbind - en dit kan slegte reuke veroorsaak. “Gevolglik moet ‘n mens dit liefs met koolstofryke materiaal soos droë blare, strooi of hooi, mieliestronke, saagsels, papier en karton meng.”

Maar as jy hope grassnysels het is dit raadsaam om die gras oop te hark en minstens ‘n dag lank in die son te laat uitdroog. Die gras behoort dan in ‘n verhouding van sowat een tot twee dele koolstofryke materiaal op die komposhoop geplaas te word – en met dié metode kan jy verwag om binne ‘n paar weke ryk kompos gereed te hê.

“Boonop sal jy jou deel doen om bruikbare materiaal uit stortingsterreine te hou, waar plantmateriaal gewoonlik in anaerobiese toestande afbreek – en metaangas afgee, ‘n kweekhuisgas 21 keer meer skadelik as koolstofdioksied.”

Daar is inderdaad bereken dat ‘n standaard swart vullissak (750mm x 950mm) vol grassnysels net soveel kweekhuisgas vrystel as die verbranding van 9,5 liter petrol om ‘n afstand van sowat 100km per motor af te lê.

Uitgereik deur Chas Everitt International.
Vir meer informasie kontak
Berry Everitt of
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.com