Dis weer somer en dit beteken gewoonlik die reuk van varsgesnyde grasp op ‘n Saterdagmiddag – maar die ontspanne atmosfeer maak dit maklik om te vergeet hoe gevaarlik grassnyers kan wees, veral as jy terselfdertyd ‘n paar koue biere drink om af te koel.
Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, sê: “Grassnyers kan maklik klippe en ander skerp voorwerpe soos ‘n missiel lanseer wat skeenbene kan sny of oë kan beskadig, en bewegende lemme kan maklik vingers of tone afsny as jy nie versigtig is wanneer die grashouer leeg gemaak word nie. En met elektriese modelle bestaan die gevaar altyd dat die kabel raakgesny kan word, wat ‘n ernstige skok tot gevolg kan hê.”
As jy nie ‘n energiebesparende (en spierbouende) meganiese grassnyer gebruik nie is dit dus raadsaam om die volgende veiligheidswenke in gedagte te hou:
Dra praktiese klere soos stewige skoene en ‘n langbroek. Moenie plakkies, kortbroeke of sakkerige klere dra wat maklik in die lemme verstrengel kan raak nie. Beskerm jou oë met ‘n veiligheidsbril of skerm.
Beskerm jou ore. ‘n Petrolsnyer kan geraasvlakke van 85 desibel opwek – genoeg om mettertyd permanente gehoorverlies te veroorsaak. Oormoffies of oorpluisies wat stewig pas, verminder die gevaar.
Maak seker daar lê nie goed op die grasperk rond nie. Verwyder alle speelgoed, takke, klippe, bakke, hondebene, en enige voorwerp wat deur die lemme uitgeskiet kan word. Maak dan seker dat kinders nie op die grasperk gaan speel terwyl jy die gras sny nie – dit sal voorkom dat hulle voor die grassnyer in hardloop of dat jou aandag deur hulle afgelei word. Maak ook seker jy weet waar verborge versperrings soos stompe of watersprinkelaars geleë is.
Raak vertroud met jou masjien. Lees die instruksiegids en volg die aanbevelings. Moet onder geen omstandighede veiligheidstoestelle soos lemskerms verwyder nie, al irriteer dit jou: elke veiligheidstoestel is ontwerp omdat iemand anders voorheen beseer is. En moet nooit probeer om ‘n lem wat vasslaan los te wikkel voordat die vonkprop op ‘n pertolsnyer uitgehaal is of die krag van ‘n elektriese snyer afgeskakel is nie.
As jy met ‘n grasmotor sny, moenie enige passasiers laat saamry nie. Die snyer kan omkantel en kinders kan maklik afval. En as jy jou kinders laat dink so ‘n grasmotor is pret mag hulle probeer om dit in jou afwesigheid self te beproef. Wees uiters versigting wanneer jy agteruit stoot en maak seker daar is niemand in die pad nie.
Moenie kinders toelaat om die gras te sny nie. Grassnyers is gevaarlike toestelle, nie speelgoed nie. Kinders jonger as 12 behoort nie ‘n stootsnyer te gebruik nie en niemand jonger as 16 behoort ‘n grasmotor te gebruik nie.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir verdere navrae:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek