Vraag na eiendom in Oos-Londen is hoog maar swak kredietrekords plaas ‘n demper op verkope.
“Daar is nou gewis meer vertroue in die mark en eiendom wat minder as R1m kos, verkoop fluks in verskeie areas,” sê Clinton Krouse van die Chas Everitt International-konsessie wat Oos-Londen-Wes bedien. “Kopers is hoofsaaklik mense in hul dertigs en vroeë veertigs wat reeds 10 tot 15 jaar werk en hulle koop gewoonlik hul tweede of derde eiendom en het dus ekwiteit in bestaande eiendom opgebou om deposito’s en oordragkoste te befonds.
“Verkope sou egter maklik kon verdubbel as dit nie was vir die feit dat talle voornemende kopers steeds swak kredietrekords het weens die resessie twee jaar gelede – en dus nie maklik vir huislenings in aanmerking kom nie.
“Ons keur al ons kopers versigtig voor hulle ‘n aanbod maak en ons het dus nie veel aansoeke wat misluk of transaksies wat gekelder word nie. Maar ons merk dat talle mense wat nou in ‘n gesonde finansiële posisie is om huis te koop verhoed word omdat daar steeds ‘n donker wolk oor hul kredietrekords hang.”
In talle gevalle, sê hy, is dit te wyte aan minder ernstige probleme eerder as ernstige hofuitsprake of ‘n lang geskiedenis van slegte skuld. “Baie voornemende aansoekers is inderdaad nie eers bewus dat hulle rekord nie onbesproke is nie maar die probleem is dat ooglopend minder ernstige versuim, soos rekeninge wat gereeld na die betaaldatum vereffen word of ‘n maandelikse betaling wat nie gemaak is nie omdat die rekening in die pos verlore geraak het, rooi ligte op banke se outomatiese kredietstelsels laat flikker en geen onderskeid tussen sulke geringe ‘oortredings’ en ernstige wanbetalings getref word nie – en sulke minder ernstige gevalle moet uitgestryk word voordat mense vir huislenings aansoek doen.”
Terselfdertyd, sê hy, is die grootste probleem vir eerste kopers gewoonlik die vereiste deposito van minstens 10% en genoeg kontant om oordragkoste te betaal. “Banke is steeds baie onwillig om 100% lenings toe te staan en eerste kopers moet dus eers ‘n aansienlike bedrag bymekaar maak voordat hulle die mark kan betree.
“Nietemin is daar sterk aanvraag vir meenthuise in die prysklas van rondom R750 00 en vir plot-en-plan eenhede soos dié in die nuwe ontwikkeling in Haven Hills waar pryse tussen R450 000 en R550 000 wissel.
“Terselfdertyd woon baie jongmense in huureiendom terwyl hulle vir deposito’s spaar en dit stut die huurmark en opbrengste op beleggingseenhede.”
UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com