Die residensiële eiendomsmark in Middelburg, Mpumalanga, bied volop winskopies – maar die mark begin nou duidelike tekens van ‘n ommeswaai toon.
Susan Muller, eienaar van die plaaslike Chas Everitt International eiendomsagentskap, berig dat tussen 25% en 35% van eiendom wat nou deur haar kantoor verkoop word deel vorm van insolvente boedels. “Talle van dié eiendomme is vroeër deur beleggers gekoop wat nie met die verbandbetalings kon byhou nie. In sommige gevalle word tot ses eiendomme in een insolvente boedel te koop aangebied,” sê sy.
Daar is sterk vraag na sulke eiendom aangesien pryse tot 20% laer as die markwaarde is, sê sy. Die meeste kopers is mense wat ‘n deposito van 10% kan betaal en wat vir hulle eie gebruik koop.
En die vinnige toeneeming van vraag sal na verwagting tot stygende pryse lei. Muller sê laer rentekoerse, laer depositovereistes en aankondigings dat 100% lenings weer in sekere gevalle toegestaan word, het vertroue in die mark geskep en vraag na wooneiendom verder aangewakker.
“Die mark is nou meer toeganklik, veral vir eerste kopers, en ons bemerk meer belangstelling in dié sektor. Ons sien ook, interessant genoeg, toenemende getalle eerste kopers wat ‘n deposto kan aanbied, in teenstelling met net ‘n paar maande gelede toe baie koopaanbiedinge deur die mat geval het omdat kopers nie verbandfinansiering sonder ‘n deposito kon bekom nie,” sê sy.
Pryse in die dorp wissel tussen R320 000 vir 44vkm meenthuise tot sowat R2m vir luukse eiendom. Die grootste vraag is vir eiendom in die prysklas van minder as R750 000.
Muller sê voorts dat vraag na huureenhede ook nog gesond is. Gemiddelde gesinshuise met drie slaapkamers behaal huurgeld van sowat R6500 per maand terwyl daar nou min voorraad beskikbaar is vir minder as R5000 per maand – die kategorie waar daar die grootste vraag bestaan.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Susan Muller
013 282 5938 of besoek