Chas Everitt staan sterk in Paarl


Die Chas Everitt International-eiendomsgroep het nou sterk verteenwoordiging in die Paarl en wynlandgebied van die Wes-Kaap waar vier agente tot dusver die groep se Notebook-lisensie bekom het.

Al vier is top agente wat verskeie toekennings ontvang het en reeds jare se ervaring in die bedryf het – en hulle beplan om die hele gebied te bedien en eiendomsverbruikers toegang te gee tot die omvattende nasionale en internasionale bemarkingsdiens wat die Chas Everitt-groep bied.

“Hoewel die Notebook-konsep gemik is op agente wat vir hulleself wil werk,” sê nuwe Paarl-lisensiehouer Suna Dorfling, “het die vier van ons in dié gebied ooreengekom om tot voordeel van ons kliënte saam te werk.”

Dorfling, wat haar dienste in Paarl se dorpsgebied gaan bied, is ‘n Chas Everitt-staatmaker wat in 2006 by die groep aangesluit het. Sy sê die Notebook-lisensiemodel wat onlangs bekend gestel is, was vir haar ‘n ooglopende keuse aangesien dit meer bekostigbaar as ‘n volle konsessie is, “maar dit stel my steeds in staat om die groep se volle bemarkingsinfrastruktuur aan my kliënte te bied”.

Ander lisensiehouers in die gebied sluit in Reon van der Merwe, ‘n veteraan met 25 jaar ervaring in die bedryf, wat saam met sy seun Johan in verkope in die Boschenmeer-gholflandgoed spesialiseer, en Henriette Basson, wat reeds geruime tyd deel van die groep is en nou besluit het om op verkope in die Paarl-vallei en Val de Vie-landgoedere te fokus.

Die vierde lid van die plaaslike Notebook-span is Elfrieda Retief, wat tot onlangs ‘n top agent by ‘n ander eiendomsgroep was. Sy het die Notebook-lisensie gekies “omdat dit perfek is vir agente soos ek wat sake onafhanklik wil bedryf maar ook die voordele wat lidmaatskap van ‘n konsessiegroep met ‘n sterk handelsnaam inhou, wil benut.”

Barry Davies, Chas Everitt se direkteur vir konsessies, sê die Notebook-konsep is “buitengewoon goed” deur hoofagente van onafhanklike agentskappe wat hulle bemarking wil uitbrei, ontvang, sowel as top agente wat vir hulle eie rekening wil werk maar die waarde van ‘n sterk handelsnaam en die steun wat ‘n sterk nasionale groep kan bied, besef.

“Die Notebook-lisensie bied lisensiehouers die reg om Chas Everitt International se handelsnaam, stelsels, webtuistes, bemarkingsmateriaal en opleiding binne ‘n bepaalde gebied teen bekostigbare toetree- en bedryfskoste te benut,” verduidelik hy, “en die model hou ook aansienlike voordele vir kliënte in.

“Dit beteken dat hulle sake met agente kan doen wat bekende en bewese presteerders in hulle plaaslike markte is en terselfdertyd kry hulle toegang tot Chas Everitt se uitstekende bemarkingsinfrastruktuur en na-verkopediens.”

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Barry Davies
011 801 2500 of besoek
www.chaseveritt.com