Press Release - 07 July 2008

Te koop-bord nie ‘n ope uitnodiging

Huiseienaars wat hulle eiendom wil verkoop moet daarteen waak om nie hulle veiligheidsmaatreëls of waaksaamheid te verslap nie.

“En hulle moet in gedagte hou dat hoewel ‘n te koop-bordjie op die sypaadjie ‘n uitstekende bemarkingsmiddel is, dit ook die aandag van mense met minder suiwer motiewe kan lok,” sê Berry Everitt, uitvoerende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Verkopers moet dus baie versigtig wees wanneer mense van die straat af vra om die eiendom te besigtig. Howel hulle belangstelling eg mag wees, is dit baie veiliger om aan te dring dat die voornemende kopers ‘n afspraak met die verkoper se eiendomsagent maak om die huis op ‘n voorafbepaalde tyd te besigtig.”

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat dit een van ‘n eiendomsagent se belangrikste funksies is om ‘n verkoper se belange te beskerm.

“Voornemende kopers moet byvoorbeeld vooraf gekeur word om seker te maak dat hulle belangstelling eg is en dat hulle finansiële posisie gesond genoeg is om die eiendom te kan bekostig. ‘n Gekwalifiseerde agent kan ook onderskei tussen opregte kopers en  nuuskierige agies wat niks beter te doen het nie en kwaaddoeners wat toegang tot die eiendom wil verkry om die omgewing te verken met die doel om later terug te keer.”

Daarom, sê hy, moet verkopers die versoeking weerstaan om verbygangers toe te laat om rond te kyk in die hoop dat dit tot ‘n geslaagde transaksie sal lei. Hulle sal beter daaraan toe wees om hulle agent se sakekaartjie uit te deel en mense te vra om eers ‘n afspraak te reël.

“Mense wat regtig belangstel sal nie omgee nie – en mense wat nie ‘n afspraak maak nie het waarskynlik nie regtig belang gestel nie of  het duister motiewe gehad.”

Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir verdere navrae:

Berry Everitt

011 801 2500 of besoek

www.chaseveritt.com

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net