Verandering in Zimbabwe goed vir eiendomsmark
n Vreedsame regeringsoorname in Zimbabwe sal buitelandse hulppakkette en belegging n groot hupstoot gee.
Dit kan ook n herlewing in die plaaslike eiendomsmark en groter belangstelling in eiendom in die hele SAOG-streek meebring, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, wat pas planne aangekondig het om eiendomskantore in Zimbabwe asook Zambië te open.
Internasionale beleggers toon inderdaad reeds belangstelling in Zimbabwe danksy aanduidings dat die Mugabe era nou aan n einde kan kom.
En sulke positiewe sentiment sal eiendom bevoordeel nie net in lande op ons noordelike grense nie, maar ook in SA, waar omsigtige buitelandse beleggers reeds geruime tyd die mark vermy weens kommer oor n moontlike ineenstorting van die Zimbabwese ekonomie en die SA regering se onwilligheid om die saak openlik aan te spreek.
Reuters het vandeesweek berig dat die Russiese beleggingsbank Renaissance reeds in Zimbabwe werksaam is en dat Citigroup glo n transaksie ter waarde van VS$25m goedgekeur het om 20 persent van die Zimabwese bank African Banking Corporation te koop.
Terselfdertyd het die Lonrho myngroep, wat in Londen genoteer is, planne aangekondig om VS$140m te verkry om sy werksaamhede in Zimbabwe uit te brei en die Mwana myngroep, wat n nikkelprojek in Zimbabwe het, se aandeelprys het vandeesweek met 20 persent gestyg.
Zimbabwe het reuse reserwes goud, nikkel, palladium, platina en ferrochroom, en gaan na verwagting voordeel trek uit hoë kommoditeitspryse op wêreldmarkte sodra die land se ekonomie weer op die been is. En Brittanje werk reeds saam met Europa, die VN en die IMF aan n hulppakket om die R1-miljard per jaar wat na raming gaan nodig wees om die land weer op die been te bring, te verskaf.
Daar is dus reeds voorbereidings aan die gang vir buitelandse hulp en kontrakwerkers om die land binne te stroom, sê Everitt, en boonop sal tussen 2m en 3m Zimbabwese burgers wat uit die land gevlug het, weer begin terugkeer.
Dit sal ongetwyfeld die plaaslike eiendomsmark laat herstel en beleggers wat reeds n teenwoordigheid daar het, sal groot voordeel behaal. Ons kry inderdaad reeds navrae oor die koop en huur van eiendom in Zimbabwe en ons glo dat ons tydsberekening vir die opening van n kantoor in Harare perfek is.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of 082 441 3601
of besoek - www.chaseveritt.com