Press Release - 05 December 2008

‘n Mens maak geld wanneer jy eiendom koop, nie wanneer jy dit verkoop nie – en hierdie somer gaan slim eiendomsbeleggers geld maak.

Dit is die oortuiging van Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Hy sê met die geraamde 50 tot 60 persent styging in eiendomswaardes wat vir die volgende drie jaar voorspel word, is dit kopers wat nou belê wat die meeste baat gaan vind.

“Dit druis teen baie mense se oortuiging in om te koop wanneer die eiendomsmark in ‘n afwaartse siklus is, maar daar is ‘n ou spreekwoord wat lui dat ‘n mens moet verkoop wanneer almal koop en koop wanneer almal verkoop as jy gesonde opbrengste op jou beleggings wil sien.

“En ons glo dié somer gaan die heel beste koopgeleentheid wees. Ons verwag dat pryse vorentoe weer vinniger gaan begin styg en dat die langtermyn opbrengste op eiendombelggings later gevolglik relatief kleiner gaan wees.”

Hy wys daarop dat groei in pryse nou bykans tot silstand gekom het terwyl dit wil voorkom asof rentekoerse naby aan ‘n draaipunt is. Boonop is daar talle verkopers wat ‘n verkooptransaksie voor die einde van die jaar wil afhandel. “Maar daar is reeds stygende vraag, soos blyk uit stygende verkope sedert Augustus, en dit sal toeneem wanneer rentekoerse volgende jaar begin daal.

“Voorraadvlakke sal dan drasties afneem en pryse sal begin styg, wat meebring dat die volgende paar maande ‘n gulde geleentheid bied om voordelige transaksies te beklink. Oor drie jaar gaan beleggers waarskynlik besef dat die mark aan die einde van 2008 gedraai het.”

Everitt sê voorts dat kopers wat dié geleentheid wil benut hulle waarskynlik op middelggroote eiendom in die middelpryssektor van die mark gaan toespits. Prysgroei in dié sektor is nou op sy laagste vlak en die hoë aanbod van eiendom maak dit moontlik om goeie waarde vir geld te kry.

“Sulke huise sal waarskynlik ook in die grootste aanvraag wees wanneer die ekonomie draai en talle middelklas gesinne wat op die oomblik huur of beskeie eiendom bewoon sal dan weer vir huislenings kwalifiseer en nuwe of groter eiendom koop. Dit is belangrik om daarop te let dat die middelklas in SA vinnig groei, met minstens 2m nuwe lede sedert 2005, en dat die koopkrag van die sogenaamde swart diamante nou gelyk staan aan die R250-miljard per jaar van die blanke middelklas.”

 

Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir verdere navrae:
Berry Everitt

011 801 2500 od besoek

www.chaseveritt.com

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net