Press Release - 04 June 2009

Sosio-ekonomiese faktore en byderwetse ontwikkeling lok buitelandse kopers na Zambië.

Volgens Chandalala Kondolo, hoofagent van die Chas Everitt International-franchise in Lusaka, lok die land toenemend buitelandse kopers danksy die gunstige wisselkoers en die feit dat Zambië binnekort met luukse gemengde-gebruik ontwikkelings gaan spog.

“Die enigste nadeel is dat buitelanders nie eiendom in Zambië kan besit as hulle nie permanente inwoners is of ‘n maatskappy in die land besit nie, maar talle buitelanders is bereid om aan dié vereistes te voldoen aangesien hulle Zambië as ‘n uitstekende beleggingsgeleentheid beskou.

“’n Groot persentasie kopers is Suid-Afrikaners wat ondernemings begin het en handels- sowel as wooneiendom gekoop het. ‘n Aantal Suid-Afrikaners het ook lodges in wildtuine gekoop en vaar uitstekend. Suid-Afrikaners oorheers ook die huurmark en hoewel hulle nog nie regtig begin het om vakansiehuise te koop nie, verwag ons dat dié stand van sake binnekort gaan verander.”

Twee nuwe ontwikkelings in Lusaka, naamlik die Heart of Africa en die Jewel of Lusaka, lok ook buitelandse belangstelling.

Die Heart of Africa is Zambië se eerste leefstyllandgoed, asook die land se grootste residensiële projek tot dusver. Sowat 850 huise gaan gebou word en die ontwikkeling sluit ‘n handels- en kleinhandelsnode, ‘n vyf-ster hotel, restourante, ‘n 18-putjie gholfbaan wat deur Matkovich ontwerp is, ‘n buiteklub, damme en gemeenskaplike parke van 70ha in. Sekuriteit sal van die hoogste standaard wees.

 

Die Jewel of Lusaka vergelyk met die Heart of Africa deurdat dit ook gemengde benutting gaan insluit. Liberty Properties en die Zambia National Pension Scheme Authority (NPSA) ontwikkel die projek ter waarde van $200m in vennootskap. Die ontwikkeling sal kleinhandel-, kantoor-, hotel- en woonnodes insluit.

Konstruksie aan die ontwikkeling het in Januarie vanjaar begin en sal na verwagting teen die einde van volgende jaar voltooi word. Die hotel sal 150 kamers, dakwoonstelle, en ‘n konvensiesentrum met 400 sitplekke bied. Sowat 20 000vkm is aan kantoorruimte toegewys en 30 000vkm is vir die kleinhandelskomponent bestem. ‘n Teaterkompleks en restourantgeriewe sal ook ingesluit word.


UITGEREIK DEUR

CHAS EVERITT INTERNATIONAL

VIR NADERE INLIGTING:

CHANDALALA KONDOLO

00 260 977 792 271 OF BESOEK

www.everitt.co.za

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net