Press Release - 04 December 2008

Toenemende kommer oor sekuriteit en weerstand teen stygende pendelkoste het sekuriteitslandgoedere in Alberton onlangs ‘n hupstoot gegee en gevolglik eiendomspryse in dié ontwikkelings ondersteun.

So sê Ronell van Niekerk, hoofagent van die plaaslike Chas Everitt International-kantoor. Sy wys daarop dat verkope in dié segment van die plaaslike mark bestendig gebly het en dat kopers wat hulle oor veiligheid bekommer toenemend verkies om in geslote landgoedere te woon.

“’n Aantal landgoede is byvoorbeeld die afgelope paar jaar in die voorstad Meyersdal gebou en die gewilde Eco Estate het veral byval onder kopers gevind. Erwe het pryse van tussen R1,6m en R2m behaal.

“’n Uitstaande kenmerk van dié landgoed is kleinwild wat vry rondloop en baie kopers verkies nou dié soort ontwikkeling bo deeltitel- of trosontwikkelings omdat dit ‘n vryer leefstyl bied. In die algemeen is eiendomme in sulke landgoedere baie privaat en ruim terwyl onaantreklike veiligheidsmaatreëls nie ‘n inbreuk op die leefstyl maak nie.”

Nog ‘n landgoed wat kopers se aandag trek is die veel ouer Alberante-ontwikkeling. Oorspronklik was dit een van die eerste uitbreidings in Alberton en dit is ‘n paar jaar gelede in ‘n landgoed omskep. Deesdae lyk dit soos ‘n park wat deur statige wonings gekenmerk word. Maklike toegang tot goeie skole en die nabygeleë middestad van Alberton dra by tot Alberante se gewildheid en ondanks die feit dat dit ‘n ouer deel is, verkoop huise, veral eenhede wat opgeknap is, steeds fluks. Pryse begin by sowat R2,5m.

Hoewel die meer luukse huismark in Alberton floreer is daar op die oomblik min aktiwiteit op toetreevlak, sê Van Niekerk, omdat baie eerste kopers steeds onder druk is vanweë die Nasionale Kredietwet en banke se nuwe reëls vir die toestaan van lenings.

“Daar is egter ‘n goue randjie – die huurmark floreer met vrypaghuise wat teen huurgeld van tussen R6000 en R14000 per maand verhuur word, wat geleenthede vir beleggers skep.”

 

UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT

VIR NADERE INLIGTING:

RONEL VAN NIEKERK

011 907 5664 OF BESOEK

www.everitt.co.za

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net