Vermy dié Groot Vyf as jy huis verkoop

Een van die grootste uitdagings vir mense wat hul huise verkoop is om hul emosies in toom te hou – maar dis noodsaaklik om koelkop te bly as jy nie voornemende kopers wil afskrik en die transaksie wil kelder nie.

“As jy wil verkoop is dit ‘n fout om jou eiendom as iets groter as ‘n blote kommoditeit wat verpak, geprys en bemark moet word te beskou,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Dit klink straks gevoelloos, maar die kanse is goed dat voornemende kopers die eiendom gaan kritiseer en jy kan dit nie bekostig nie – emosioneel of finansieel – om jou te vervies omdat hulle klaarblyklik nie al jou harde werk om die eiendom in ‘n goeie toestand te hou, waardeer nie.”

Hy sê bedrewe kopers mag inderdaad met opset aanmerkings maak wat daarop gerig is om verkopers op die verdediging te plaas wanneer onderhandelings oor die prys van die eiendom aangeknoop word. “Maar met die hulp van ‘n ervare en betroubare eiendomsagent kan verkopers gewoonlik dié slaggat, sowel as vier ander groot foute wat ‘n transaksie kan laat skipbreuk ly, vermy.”

Die vier ander groot slaggate is:

* Bemarking van die eiendom voordat dit markgereed is. “Dit gebeur dikwels dat die verkoper haastig is om te verkoop omdat hy na ‘n ander omgewing moet verhuis. Maar verkopers moet onthou dat eerste indrukke beslis ‘n groot rol in eiendomsverkope speel. As daar dus ‘n verslete mat is wat vervang moet word of mure wat geverf moet word behoort dié werk afgehandel te word voordat jou agent begin om die eiendom te bemark,"”sê Everitt.

* Onvolledige finansiële inligting. “Verkopers moet byvoorbeeld weet wat die uitstaande balans op hul eie huisverband is en hoe lank voor die tyd hulle die bank moet verwittig dat die verband vroeg afgelos gaan word om ‘n boete vry te spring. Die agent wat die bemarkingsmandaat hou behoort ook die jongste - en omvattende - inligting oor huisverkope in die buurt te kan verskaf.”

* Prysbepaling op grond van hoeveel kontant jy uit die transaksie wil – of moet – verdien. So ‘n prysbeleid slaag nooit,” sê Everitt, omdat die verkoper slegs die verwagte prys kan bepaal terwyl die mark die uiteindelike verkoopprys gaan bepaal. “En die mark bestaan gewoonlik uit kopers wat pryse noukeurig vergelyk en ‘n wye draai loop om eiendom met onrealistiese pryse.”

* Pogings om probleme te verdoesel of te verswyg. “Die beste plan is om enige probleme of defekte reg te stel voordat die eiendom bemark word maar as dit nie moontlik is nie moet jy oop kaarte met jou agent en voornemende kopers speel. Jy moet ook bereid wees om ‘n billike prys vir die huis in sy ware toestand te aanvaar. Enige pogings om die waarheid toe te smeer sal heel moontlik tot regstappe teen jou lei – en as die saak slaag kan dit jou duur te staan kom en kan jy dalk selfs meer moet opdok as die wins wat jy op die transaksie sou maak. Dit is belangrik om dit in gedagte te hou, veral noudat die Wet op Verbruikersbeskerming in werking getree het.”

ISSUED BY CHAS EVERITT INTERNATIONAL
FOR FURTHER INFORMATION CALL
BERRY EVERITT ON
011-801-2500 OR VISIT
www.chaseveritt.com