Press Release - 3 June 2008

Herwinning-ontwikkeling die nuwe neiging

Met ontwikkelingsgrond wat al hoe skaarser raak en met stygende bou- en dienskoste kry herwinning-ontwikkeling al hoe meer aftrek.

“Die term verwys na die herontwikkeling van ouer of verwaarloosde woonbuurte om weer waarde aan bestaande infrastruktuur te gee en word wyd beskou as ‘n teenvoeter vir ongebreidelde ontwikkeling rondom stede,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Dit word ook gesien as ‘n manier om die verdere vernietiging van die natuurlike omgewing te bekamp en om skaars hulpbronne te beskerm.”

Volgens ontleders in die bedryf hou die neiging, wat wêreldwyd reeds meer as VS$1-triljoen in besteding verteenwoordig, ook groeiende geleenthede vir ekonomiese ontwikkeling vir ondernemers, beleggers en gemeenskappe in.

In stede wat al hoe digter bevolk word, word groter klem op woonbuurte wat ‘n skoon omgewing, beskerming van historiese geboue en nuwe sowel as herwinning- ontwikkeling waarborg al hoe belangriker, sê diê ontleders.

Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat herwinning-ontwikkeling die volgende insluit:

- die herwinning en herstel van residensiële geboue;

- herbenutting, wat verwys na die omskakeling van ongebruikte fabrieke en pakhuise in wooneenhede; en

- vervanging, ook bekend as invulling, waar ruimtes tussen bestaande geboue ontwikkel word om die beste nut uit bestaande infrastruktuur soos paaie en water- en elektrisiteitstelsels te haal.

“En wat die natuurlike omgewing betref, sluit dit opruiming van besoedeling in riviere, spruite en groen gebiede, sowel as die omskakeling van ou stortingsterreine in groen ruimtes in.”

Maar vir suksesvolle aanwending moet stede dikwels beperkings ter syde stel sodat grond en geboue vir nuwe gebruike ingerig kan word en moet aansporings vir hernuwing ingestel word. Die voordeel is minder druk op infrastruktuur.

“Dit kom reeds tot ‘n sekere mate in Suid-Afrika voor en daar is positiewe tekens in Kaapstad en Johannesburg se middestede.

“Die mees suksevolle ‘herwinning-ontwikkelaars’ sal egter diegene wees wat ten volle ingeskakelde projekte kan bedink wat die natuurlike sowel as die beboude omgewing in aanmerking neem.”

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500
of besoek www.chaseveritt.com