Press Release - 03 July 2007

Die probleem met kontant …

Die nuwe Nasionale Kredietwet wat strenger maatreëls op die uitleen van geld voorskryf en dit moeiliker maak om krediet te bekom, noop huiskopers om eerder kontant te betaal as om vir huislenings aansoek te doen.

En kopers wat dit kan bekostig – of minstens ‘n groot kontantdeposito bymekaar kan maak – gaan waarskynlik ‘n groot voorsprong hê wanneer hulle oor pryse onderhandel, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. ‘n Kontantaanbod is inderdaad elke huisverkoper se droom.

“Daarby hoef beleggers wat eiendom met kontant koop met die oog daarop om dit te verhuur hulle ook nie te bekommer of die huurinkomste elke maand genoeg gaan wees om die verbandterugbetalings te dek nie.”

Maar, maan hy, daar is moontlike slaggate. Die belangrikste is dat ‘n bankwaardeerder nie die eiendom gaan waardeer as jy nie vir ‘n verband aansoek doen nie – wat beteken dat jy nie outomaties bevestiging gaan kry dat die eiendom inderdaad die verkoopprys werd is nie.

“Voordat jy dus ‘n groot kontantbedrag oorhandig behoort jy dit ernstig te oorweeg om jou eie waardasie deur ‘n opgeleide waardeerder te laat doen.”

Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat kontantkopers ook moet vasstel of die waarde van die eiendom wesentlik meer gaan groei as ander beleggings waarin hulle die geld kan belê – en dat hulle dié “opbrengs” binne ‘n relatiewe kort tydperk gaan realiseer.

“Derdens moet kopers voorbereid wees op moontlike vertragings in die transaksie weens die vereistes van die Finansiële Intelligensiesentrumwet (FICA).”

Dié wetgewing, wat daarop gemik is om geldwassery en ander onregmatige transaksies te bekamp, verplig eiendomsagente om die ontvangs van enige kontantbedrag groter as R50 000 in ‘n eiendomstransaksie by die staat se Finansiële Intelligensiesentrum aan te meld.

Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500
www.chaseveritt.com