Die vraag na huureenhede in Alberton is veel groter as die aanbod aangesien voornemende huiskopers steeds ‘n bloutjie by die banke loop.
Ronell van Niekerk, hoofagent van die plaaslike Chas Everitt International-kantoor, sê alle eenhede teen huurgeld van R5000 of minder word opgeraap sodra dit beskikbaar gestel word.
“Hoewel daar belangstelling is, vind ons dat die meeste eerste kopers net nie op die oomblik verbande kan kry nie – selfs al kan hulle die maandelikse paaimente bekostig – omdat hulle nie die kontant het vir die groot deposito’s wat deur banke vereis word nie.
“Dit laat hulle met geen ander keuse as om huisvesting te huur nie en dit skep sterk vraag na veral woonstelle en meenthuise, maar ook na kleiner huise onder gesinne wat ruimte vir jong kinders of troeteldiere verlang.”
Huurgeld wissel tussen R3500 per maand vir woonstelle en R10 000 per maand vir troshuise terwyl huur vir huise by sowat R4000 per maand begin vir ouer woonhuise met een badkamer. Nuwer huise met drie slaapkamers en twee badkamers word vir tot R8000 per maand verhuur. Daar is ook luukse huise in Meyersdal te huur teen sowat R14 000 per maand maar daar is ‘n kleiner vraag na dié soort eiendom.
Van Niekerk sê in die lig van die sterk vraag na huureenhede is beleggers met kontant op die uitkyk vir winskopies wat hulle kan opknap en verhuur. “Sulke beleggers woon ook veilings by waar hulle insolvente eiendom teen baie goeie pryse kan bekom.”
Beleggers is ook deeglik bewus daarvan, sê sy, dat die voorraad huise te koop daal aangesien eienaars toenemend besluit om deur te druk totdat hulle ‘n beter prys vir hulle eiendom kan verwag.
“Terselfdertyd het nuwe ontwikkeling op die dorp bykans heeltemal tot stilstand gekom, nie net weens die ekonomiese insinking nie, maar ook omdat daar nou baie min ruimte vir sulke projekte in Alberton beskikbaar is.”
UITGEREIK DEUR
CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
RONELL VAN NIEKERK
011 907 5664 OF BESOEK