Press Release - 03 December 2008

Daar is ‘n nuwe gees van optimisme in die globale eiendomsmarkte na die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing – en dit het nuwe belangstelling in die plaaslike mark aangewakker.

Dit is die siening van Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, wat daarop wys dat Europese kopers veral gewillig is om weer in SA eiendom te belê danksy die swakker rand in vergelyking met hulle eie geldeenheid en die relatief lae pryse van plaaslike eiendom.

“Boonop is die SA mark gesond en sal waarskynlik vinniger herstel van die wêreldwye ekonomiese afplatting as die meeste groot Europese markte en die Amerikaanse mark wat kwaai deurgeloop het. Dit bring mee dat daar plaaslik beter vooruitsigte vir kapitale groei is.

“Dit is dus nie verrassend nie dat die aantal navrae wat ons van buitelandse kopers gekry het die afgeplope twee maande aansienlik toegeneem het.”

Dit beteken egter nie dat SA verkopers almal skielik buitelandse kopers aan hulle deur gaan hoor klop nie. “Duitse, Hollandse, Skandinawiese en Britse kopers verkies duurder leefstyleiendomme en hulle kom boonop net van eiendom te hore wat  spesifiek deur plaaslike eiendomsmaatskappye met ‘n internasionale bemarkingsinslag bemark word.”

Daar is ook ander faktore, sê Everitt, wat verkopers in gedagte moet hou as hulle buitelandse kopers wil teiken. “Hulle behoort byvoorbeeld ‘n eiendomsagent kies wat vertroue by sulke voornemende kopers sal wek.

“Mense wat nie ons land en gebruike ken nie en nog nie tevore hier sake gedoen het nie, sal verkies om met professionele mense wat hulle belange sal beskerm sake te doen. Daar mag ook taalprobleme wees wat oorbrug moet word.”

Agente wat met buitelandse kopers onderhandel moet ook goed voorbereid wees om markdinamika te bespreek en fyn besonderhede oor die prysrevolusie die afgelope 12 tot 24 maande, tendense, vooruitskattings vir die volgende twee tot drie jaar en die huurmarkte in verskillende gebiede te bespreek, sê hy. Wetlike vereistes en belastingimplikasies is twee ander onderwerpe waarmee hulle vertroud moet wees.

“Kortom, buitelandse kopers moet heeltemal gemaklik voel dat hulle ‘n gesonde beleggingsbesluit maak en dit is die agent wat die transaksie behartig se taak om hulle sulke gemoedsrus te gee.”


Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500
www.chaseveritt.com

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net