Jou blootstelling kan nooit oordrewe wees nie

Selfs Yahoo! Real Estate – wat elke maand 7,63m unieke besoekers lok en waarskynlik die wêreld se top eiendomspoort is – verteenwoordig ‘n aandeel van slegs 6,51% van die Amerikaanse huissoekmark.

“En die drie naasgrootste poorte – realtor.com, zillow.com en trulia.com – het net ‘n markaandeel van onderskeidelik 6,46%, 5,69% en 4,77,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.

“Volgens die jongste inligting van Hitwise, wat die sukses van al die top Amerikaanse eiendomspoorte moniteer, bereik die top 20 saam inderdaad minder as die helfte (47%) van die 216m Amerikaners wat sulke webwerwe elke maand besoek – en dit bewys net weer dat jy nooit jou eiendom op te veel webwerwe kan tentoonstel nie.”

Dit lei geen twyfel nie, sê hy, dat al hoe meer voornemende kopers op die internet na eiendom soek, selfs in Suid-Afrika waar toegang tot die internet tot dusver baie meer beperk as in Amerika is. “En die huissoekmark – oftewel die aantal mense wat eiendom wil koop – is natuurlik baie kleiner in SA as in Amerika en dit is dus selfs meer noodsaaklik dat enige eiendom hier soveel blootstelling moontlik kry.

“Ons glo dus dat ‘n agentskap se vermoë om eiendom op ‘n wye verskeidenheid eiendomspoorte of webwerwe te adverteer nou groter gewig moet dra by huiseienaars wat agente keur voordat hulle ‘n verkoopsmandaat toestaan.”

In die lig van dié siening plaas Chas Everitt International nuwe eiendomme te koop op “elke SA eiendomspoort waarvan ons weet”, insluitende iolproperty; cyberprop.com; privateproperty.co.za; en property24.com.

“Boonop hou ons deurentyd ‘n vinger op die pols van die jongste tegnologie en pas dit aan om groter blootstelling aan ons kliënte se eiendom te gee. Ons toets byvoorbeeld nou QR-kodes in Bedfordview en Edenvale en kry ‘n oorweldigende reaksie,” sê Everitt.

QR-kodes (quick response) is vierkantige swart-en-wit matrikse wat deur slimfone gelees kan word en ‘n magdom gekodeerde inligting bevat. “So ‘n kode op een van ons verkoopsborde stel byvoorbeeld almal met die nodige vermoë op hul fone in staat om dadelik ‘n e-brosjure af te laai wat ‘n beskrywing en foto’s van die huis, sowel as ander inligting soos die prys, finansieringsvereistes, skole en winkels in die omtrek, ensovoorts, bevat.

“Dié tegnologie maak wêreldwyd opslae en dis reeds die gewildste manier onder Japanese verbruikers om inligting oor produkte wat hulle benodig of wil koop, te bekom. Ons beskou dit as ‘n belangrike uitbreiding van die arsenaal bemarkingskanale tot ons beskikking.”

UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com