Die dramatiese daling in die waarde van die rand teenoor geldeenhede soos die Amerikanse dollar, die Britse pond en die euro die afgelope paar maande het buitelandse belangstelling in plaaslike eiendom weer laat opvlam – en dit kan die plaaslike behuisingsmark 'n beduidende hupstoot gee.
“Die waarde van die rand het sedert Mei skerp gedaal en het die aandag van buitelandse beleggers getrek, veral gesien in die lig van die ekonomiese probleme in Europa,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep.
“Mense van regoor die wêreld soek na veilige beleggingsbestemmings en SA, met 'n stabiele bankstelsel en groeiende ekonomie, word toenemend as 'n uitstekende bestemming beskou. Dit word onderstreep deur die feit dat minstens 30% van navrae wat ons deur ons bemarkingswebtuistes ontvang nou van buitelanders afkomstig is.
“Die meeste navrae kom uit die VK, die VS, China en Duitsland, maar ons bemerk ook belangstelling onder beleggers uit talle ander Europese en Oosterse lande, sowel as uit Rusland en die Midde-Ooste.”
Hy wys daarop dat buitelandse beleggers gewoonlik nie beoog om voltyds in SA te woon nie. “Op die oomblik stel hulle hoofsaaklik belang in eiendom om te verhuur of vakansiehuise wat nou teen gunstige pryse beskikbaar is en in die medium termyn teen 'n wins verkoop kan word.
“En indien SA dié stygende belangstelling reg benader, hou dit groot potensiaal om die behuisingsmark landwyd 'n hupstoot te gee – en terselfdertyd die ekonomie te steun - deurdat oortollige voorraad, wat pryse afdruk, opgeneem sal word.”
Everitt sê die Amerikaanse mark is 'n sprekende voorbeeld van die moontlike positiewe uitwerking wat buitelandse belegging vir die plaaslike mark inhou. “Volgens die Amerikaanse nasionale vereniging van eiendomsagente (NAR) het buitelandse belegging in Amerikaanse eiendom die afgelope jaar met 24% tot VS$82-miljard toegeneem en verteenwoordig nou 8% van alle huisverkope.
“In vakansiebestemmings, soos byvoorbeeld die suide van Florida, verteenwoordig internasionale kopers egter 25% van die mark en dié belangstelling het die plaaslike konstruksiebedryf voorwaar opgekikker. Nuwe huise het in die drie maande tot die einde van September met 'n volle 20% toegeneem.”
Dieselfde tendens kom voor in ander gewilde markte onder buitelandse beleggers Dit sluit in Kalifornië en Arizona, wat veral noustrop getrek het toe die behuisingsborrel gebars het, sowel as New York, waar 'n geraamde 15% van verkope nou aan internasionale kopers te danke is, sê hy.
“Die positiewe uitwerking van internasionale transaksies is inderdaad so opmerklik dat twee senatore nou nuwe wetgewing onderskryf wat, indien dit goedgekeur word, gaan meebring dat buitelanders wat meer as VS$500 000 aan wooneiendom bestee outomaties sal kwalifiseer vir 'n gesogte Amerikaanse visum.
“Suid-Afrika hoef nie noodwendig tot so 'n stap oor te gaan nie, maar ons behoort beslis nie neus op te trek vir buitelandse belegging nie en ook nie te probeer om dit enigsins te ontmoedig nie.”
UITGEREIK DEUR
CHAS EVERITT INTERNATIONAL
VIR NADERE INLIGTING:
BERRY EVERITT
011 801 2500 OF BESOEK
www.chaseveritt.com